Huisroof: Pitbull vat ‘n koeël vir haar baas

"Al was Linke erg getraumatiseer toe sy by die praktyk aankom, het haar mooi persoonlikheid my dadelik opgeval," sê dr. Letitia Swartz van Sasolburg Veearts.

 

MIDVAAL. – ‘n Tweejarige Amerikaanse pitbull, Linke, het verlede week ‘n koeël deur die borskas gekry in ‘n poging om haar eienaars teen rowers te beskerm. Die drama het verlede Dinsdagaand net voor 21:00 begin toe Jean-Pierre Strydom van die werk af gekom en by sy huis in Henley-on-Klip gestop het. Hy is buite deur drie gewapende mans oorval.

Hy het aan sy meisie, Zenita Peens wat in die huis was, geskreeu om hul honde te laat uitkom. Linke het onmiddellik op die rowers afgestorm en is deur een van die aanvallers in die bors geskiet. Jean-Pierre is ook in die linkerkuit gewond.

Dit was net die begin van die paartjie se nagmerrie-ervaring. Jean-Pierre het bloeiend op die grond gelê terwyl Zenita by die aanvallers gepleit het om haar toe te laat om iets op sy skietwond te druk om die bloeding te stop. Sy is deurgaans met vuurwapens aangehou. Die rowers het die sleutel van hul BMW 320 geëis maar dit neergegooi toe ‘n buurman, wat die skietery gehoor het, ook skote uit sy erf begin vuur het. Die rowers het daarna te voet gevlug en net die paartjie se selfone gevat.

Jean-Pierre is deur familielede na MediClinic Vereeniging gejaag, waar hy gestabiliseer is en pynmedikasie ontvang het. Hy is daarna na die staatshospitaal in Heidelberg vervoer. Zenita het intussen haar pa, mnr Danie Peens, gekontak om hulp vir die beseerde Linke te probeer kry. Dr. Letitia Swartz van Sasolburg was die enigste veearts wat so laat na ure op haar noodnommer bereik kon word. Sy het Linke dadelik begin behandel nadat mnr. Peens haar omstreeks 23:30 die aand na die praktyk gebring het.

“Die koeël is aan die voorkant van Linke se borskas in en het die voorste deel van een van haar longe getref. Gelukkig het dit haar hart gemis, maar ons moes vinnig speel want sy het teen ‘n vinnige tempo baie bloed in haar borskasholte verloor. Ons het haar dadelik gestabiliseer en die bloeding begin dreineer om so min drukking as moontlik op die long te plaas, anders kon dit platval,” sê dr. Swartz. Gelukkig was geen verdere prosedures nodig nie en Linke kon reeds Saterdag ontslaan word. Sy dra nog ‘n borsverband en daar is nog dreinering wat ‘n paar opvolgbesoeke gaan vereis.

“Al was Linke erg getraumatiseer toe sy by die praktyk aankom, het haar mooi persoonlikheid my dadelik opgeval. Ondanks haar trauma was sy glad nie aggressief teenoor my nie, al het sy my nie geken nie. Sy is ‘n sterk en oulike hond. Ons is vol vertroue dat sy volledig gaan herstel. ‘n Mens hoor soms negatiewe uitsprake oor dié tipe ras, maar Linke is ‘n sprekende voorbeeld van wat hierdie soort honde bereid is om te doen om hul eienaars te beskerm. Ek beskou haar as ‘n heldin. Honde is bereid om hul lewe vir hul eienaars te gee – iets wat ons mense nie eers altyd vir mekaar sal doen nie.” sê dr. Swartz.

* Jean-Pierre is intussen ook uit die hospitaal ontslaan maar sal weer ‘n paar keer dokter toe moet gaan vir opvolgondersoeke. Hoewel hy nog pyn het en met krukke loop, maak hy goeie vordering. Volgens Zenita hardloop Linke weer rond en speel weer buite. “Dit gaan baie goed met haar. Sy lyk soos ‘n hond wat niks makeer nie,” sê Zenita. Sover vasgestel kon word, is die rowers nog nie aangekeer nie.

Dr. Letitia Swartz van Sasolburg Veearts gee ‘n drukkie vir Linke, die Amerikaanse pitbull wat verlede Dinsdag tydens ‘n huisroof in die borskas geskiet is.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version