Sewende Dan Grootmeester uit Vaal berei voor vir Seoel

Plaaslike verweerkuns-meester deel oorlewingswenke en verteenwoordig SA eersdaags internasionaal

 

VANDERBIJLPARK. – Senior burgers wat aan Jeugland-ouetehuis se weeklikse kuierbyeenkomste deelneem, het vroeër die maand waardevolle oorlewingswenke gekry oor hoe om koel en kalm in stresvolle situasies te bly.

Grootmeester Lenord Le Hanie, ‘n 7de Dan Taekwondo Jidokwan, was op 12 September die genooide spreker wat met sy onderwerp, “Wie waag, lewe” gefokus het op maniere waarop individue hul denkprosesse te midde van chaos kan beheer.

Teenwoordiges is aangespoor om ‘n dieper begrip te kry van die fisiologiese reaksies wat tydens noodsituasies in die liggaam plaasvind en om dit tot hul voordeel te gebruik.
As gesoute openbare spreker deel Le Hanie reeds sedert 1989 sy kennis oor verweerkunste en oorlewingstrategieë. Hy kan terugkyk op ‘n indrukwekkende loopbaan, wat onder andere insluit dat hy fisiese gevegsoefening onderrig het aan Suid-Afrika se Spesialemagte-operateurs, ook bekend as die Recce’s.

Le Hanie se ryk ervaring en kundigheid het hom nou ‘n gesogte internasionale uitnodiging besorg: Hy is genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Global Traditional Taekwondo Federation se “Taekwondo Dinkskrum-beraad”, wat van 6 tot 11 Oktober in Seoel, Suid-Korea, plaasvind. Sy uitgebreide kennis van Taekwondo en selfverdediging, gekombineer met sy prestasies, maak hom ongetwyfeld ‘n baie waardevolle ambassadeur vir Suid-Afrika.

Nog ‘n veer in sy hoed is dat hy kan spog met 38 nasionale atlete wat onder sy leiding Protea-kleure verwerf het. Hy is die enigste afrigter in Suid-Afrika wat sedert 1989 reeds 178 swartgordels in taekwondo opgelewer het.
Belangstellendes wat meer oor sy werksaamhede wil uitvind, kan Le Hanie by 082 8944 924 kontak.

Mignon Venter van Jeugland saam met Grootmeester Leonard le Hanie tydens sy onlangse optrede.

Grootmeester Lenord Le Hanie in aksie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version