Lewensgevaarlik vir vrou as elektrisiteit afgaan

Wanneer die elektrisiteit afgaan is dit uiters ongemaklik vir almal, maar daar is mense wie dan in lewensgevaar verkeer.

VANDERBIJLPARK – Die CW-areas het kort-kort elektrisiteitsprobleme. As daar nie ‘n transformator is wat ontplof nie, dan brand die panele uit of skielik is daar panele wat oorlaai en beurtlading moet toegepas word.

Alhoewel dit groot ongemak en nood by al die inwoners veroorsaak, is daar die mense wat elektrisiteit benodig om hulle aan die lewe te hou.

Ina Kitching (65) is een van hulle. Sy is al vir jare bedlêend en het long emfiseem wat vererger word deur asma. Haar longe het al met geboorte seergekry.

Sy is permanent aan ‘n elektriese suurstofmasjien gekoppel. “Soms kry ek ‘n erge asma-aanval en dan moet ek van die groot suurstofbottel ook gebruik maak,” vertel sy.

Haar man, Ronnie, versorg haar. Wanneer die krag afgaan, moet sy dadelik op die groot suurstofbottel gaan.

“Die groot bottels kos R573.65,” beduie Ronnie met die stapel kwitansies in sy hand. Weens die onlangse kragprobleme in CW1 moes hulle tussen 28 Augustus en 23 September al vyf ander bottels kry.

“Wanneer die krag af is, hou so ‘n 10kg suurstofbottel maksimum vier dae,” vertel hy moedeloos.

Die egpaar het nie ‘n mediesefonds nie en sê hulle het al probeer om by een van die staatshospitale suurstof te kry, maar moes so lank wag dat haar draagbare suurstoftenk amper klaar geraak het.

“Ek verkies om in my eie bed te bly,” beduie Ina wat alles wat sy nodig het rondom haar bed ingerig het.

“Dit werk goed, solank as wat die elektrisiteit nie afgaan nie,” voeg Ronnie moedeloos by.

“Dis moeilik, veral in die nag, as ek wakker word en besef die krag is af, dan sukkel ek so vinnig as moontlik om tot by Ina te kom om haar op die suurstoftenk te kry.”

Ronnie (66) kan nie meer werk nie. Hy loop swaar omdat albei sy knieë vervang moet word, maar sê by die staatshospitaal het hulle vir hom gesê hy kan tot 10 jaar op ‘n waglys vir knievervangingoperasies wees.

“Ons vra niemand geld nie, net om elke dag elektrisiteit te hê sodat Ina kan asem haal.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version