AdvertorialBusinessNews

Oud-polisievrou dien die Vaal nou op vele nuwe terreine

"Ek sien myself as 'n opregte, nederige en eerlike vrou van God, en daarvandaan kom my passie om die weduwee en wese te help," sê Hannelie

Baie inwoners sal Hannelie Riekert onthou as ‘n flink polisievrou wat na 15 jaar diens in die SAPD, met die rang as kaptein uitgetree het. Nadat sy tien jaar gelede tot die bediening toegetree het, lewer sy vandag steeds ‘n toegewyde diens aan die gemeenskap, maar nou op verskeie nuwe terreine.

Dié gebore en getoë Vanderbijlparker het intussen haar vierjaar teologiese opleiding deurloop en ook by die Noordwes-Universiteit op traumaberading toegespits. Sy doen nou trauma- en huweliksberading sowel as geestelike berading en sê sy voel bevoorreg om ook gereeld pro bono huwelike te kan bevestig en begrafnisdienste te behartig. Sy is vir dié take by Binnelandse Sake geregistreer.

Almal wat haar ken, weet dat Hannelie stilweg ‘n helpende hand na behoeftiges uitreik en altyd besig is met projekte om kos en klere vir iemand in nood in te samel. Verskeie kinderhuise, toevlugshuise, huise van veilige bewaring, ouetehuise en skole het al by haar dienste baat gevind. Hoewel sy onder die vaandel van ‘n gemeente werk, doen sy ook heelwat werk in haar persoonlike kapasiteit.

“Ek sien myself as ‘n opregte, nederige en eerlike vrou van God, en daarvandaan kom my passie om die weduwee en wese te help. My missie is om Vanderbijlpark ‘n beter en veiliger plek vir almal te maak. Dis nie ‘n maklike taak nie, en ek sou dit nooit kon doen sonder die samewerking van my vriendinne, wat dieselfde passie met my deel nie,” sê Hannelie.

* Kontak haar by 083 415 2094 om meer uit te vind oor die dienste wat sy aanbied.

Hannelie Riekert

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button