Tweeling geniet hul krieket terdeë

Die tweeling geniet nie net hul krieket nie, hulle leef vir die sport.

VANDERBIJLPARK – Ethan Graham onthou die aand wat hy ses paaltjies ingeoes het en net twee lopies afgestaan het.

Sy tweelingbroer Ruvan se hoogtepunt so ver was die 85 (nie uit nie) wat hy al in ‘n wedstryd geslaan het. Dieselfde wedstryd waar hy drie vangskote benut het en tweekeer die paaltjies gestonk het.

Die twee graad ses leerders aan die Laerskool D.F. Malherbe leef vir krieket. Hulle was maar twee weke oud toe hulle die eerste keer hul verskyning langs ‘n krieketveld gemaak het.

Ruvan en Ethan na ‘n onlangse oorwinning van D.F. Malherbe. Ethan het 3 paaltjies gevat en 58 van 51 balle aangeteken. Ruvan het 62 van 53 balle geslaan, twee vangskote benut en twee stonke gehad. Hul venootskap van 119 van 86 balle het ‘n oorwinning verseker. Foto: Elsabe Graham

Hul ouboet, Ivan Graham het toe gespeel. Die twee reken dis net daar waar hulle ook met die krieket-ding begin het.

Ethan is by uitstek ‘n bouler, terwyl Ruvan paaltjiewagter en kolwer is. Die twee speel nie net vir D.F. Malherbe nie. Waar daar ook al ‘n krieketliga vir hul ouderdomsgroep is, kan jy maar weet die duo is betrokke.

Van die Sedibeng Premium Liga tot by die Bokkieweek, die Jozi League en Lenasia Cricket League. Ruvan speel vir Sedibeng en Ethan vir Johannesburg Suid.

Al wat vir hulle belangrik is, is dat hulle dwarsdeur die jaar kan krieket speel. Hulle onthou nog die dae toe hul broer hulle afgerig het met die KFC Mini Krieket.

Dis duidelik hul ouboet is hulle held. Beide erken dat alhoewel hulle van die Proteas hou, hulle eintlik Indië in krieket ondersteun.

Ethan se groot krieketheld is Sachin Tendulkar, terwyl Ruvan baie van Virat Kohli hou.

Natuurlik mis die twee nie ‘n Indian Premier League (IPL) wedstryd nie. Ethan is ‘n RCB ondersteuner en Ruvan ondersteun KKR.

Beide droom daarvan om eendag professionele krieketspelers te word. Vir eers sal hulle nie omgee om net een wedstryd op die Wanderers stadion te kan speel nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version