Local newsNewsNews

Somerweek terug in Vaal met ‘n aksiebelaaide toernooi

MEYERTON - Bokkieweek se gewilde Somerweek vind vanjaar vir die eerste maal in vyf jaar weer in die Vaaldriehoek plaas. Die sportweek vind van 24 tot 28 September plaas.

Somerweek bars vanjaar behoorlik uit sy nate met 1 300 deelnemers oor vyf sportsoorte heen en 300 beamptes.

Sportsoorte waaraan vanjaar deelgeneem gaan word sluit in 7’s rugby, T-20 krieket, snelbal (fast five), gholf en woemahokkie (six a side).

Woemahokkie vir dogters o/17 is ’n nuwe toevoeging tot Somerweek.

“Dié blitsvinnige hokkiesoort verg uitsonderlike koördinasie en spoed. Dit is ‘n besonderse opwindende sport om te kyk,” sê ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van Afrikaner Volkseie Sport (AVS).

Die Somerweekprogram skop, ná die opening op Dinsdag 24 September om 17:00, met openingswedstryde in 7’s rugby en woemahokkie af. Daarna sê die spanne mekaar deur die loop van die week op die oewer van die Vaalrivier die stryd aan.

“Dit is vir ons ‘n besonderse voorreg om weer in die Vaaldriehoek so by die Vaalrivier te speel. Alhoewel die Vaalrivier sy naam vanweë die grys kleur van sy water kry, is dié omgewing allesbehalwe vaal,” sê ds. Stans.

Saterdag, 28 September, vind die eindstryde plaas, wanneer die kragtigste spanne in die toernooi teen mekaar in die semi-finale en finale meeding. Die AVS Nasionale spanne word ook Saterdag tydens die prysuitdeling, ná afloop van die finale bekendgemaak.

Volgens ds. Stans beloof die Somerweek nie net om vir groot aksie te sorg nie, maar is dit ook ’n kultuurbelewenis.

“Tydens hierdie toernooi kom verskeie sporttalente bymekaar om hulle liefde vir sport vol vreugde en sonder spanning uit te leef en dit is mooi om te aanskou.”

Bokkieweek nooi die plaaslike gemeenskap uit om die Somerweek by te woon.

You can read the full story on our App. Download it here.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button