Local newsNews

Deneysville: Eensydige naamsverandering grief inwoners

'n Byeenkoms word vandag, 23 September, om 16:00 by die Refeng Kgotso-gemeenskapsaal gehou waar mense wat nie met die verandering saamstem nie, hul stemme kan laat hoor.

 

 

Die VF Plus het sterk beswaar aangeteken teen die voorgestelde naamsverandering van Deneysville na Lekoa weens die gebrek aan behoorlike konsultasie met die dorp se inwoners.

“Inwoners van Deneysville is eers op 11 September van die voorgestelde naamsverandering in kennis gestel, waarop die VF Plus ’n formele beswaar ingedien het,” sê Metsimaholo-raadslid Elsa Geyser.

“Ten spyte van verskeie versoeke vir ’n openbare vergadering in Deneysville, het die departement op 16 September slegs ’n vergadering met gemeenskapsleiers gehou waar geen duidelike redes vir die naamsverandering verskaf is nie.

“Die voorgestelde verandering sal ʼn groot finansiële las vir alle betrokkenes meebring sonder enige bydrae tot dienslewering,  infrastruktuurontwikkeling of plaaslike ekonomiese groei. Verder ignoreer die ANC-regering met hierdie voorstel die dorp se geskiedenis en ontwikkeling, wat strydig is met die ooreenkoms van 1994.

“Ingevolge dié ooreenkoms is munisipaliteite hernoem, maar dorpe en stede se historiese name het behoue gebly. So is Deneysville se naam behou, terwyl die munisipaliteit Metsimaholo genoem is – uit erkenning van almal se gedeelde geskiedenis en diversiteit,” sê Geyser.

Deneysville, wat in 1936 geproklameer is en binnekort sy 100ste bestaansjaar vier, het ’n ryk geskiedenis en is vernoem na Deneys Reitz, voormalige minister van waterwese en seun van ‘n destydse staatspresident,  F.W. Reitz, van die Vrystaat.

Raadslid Geyser versoek inwoners wat teen Deneysville se naamsverandering beswaar wil maak, om vandag (23 September 2024) om 16:00 by die Refeng Kgotso-gemeenskapsaal te wees. Hulle kan dan by die openbare deelnameproses opstaan teen die beplande naamsverandering.

“Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om hierdie onregverdige verandering teen te staan,” sê Raadslid Geyser.

 

Raadslid Elsa Geyser

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button