Local newsNews

Regstappe na rou riool in Vanderbijl-erwe

VANDERBIJLPARK - Vir die laaste paar maande word die gemeenskap in die CW-gebiede gereeld geraak deur rou riool wat in hul erwe opstoot weens ’n stukkende rioolpyplyn. Die Emfuleni-munisipaliteit het glo tot op hede nog geen vooruitsigte om die pyp te vervang nie.

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie (SAMRK) teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ingedien oor die riool wat in erwe in die CW-gebiede opdam.

“Inwoners is basies in hul huise gekluister as gevolg van die riool in hul erwe. Die riool hou ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners in en die reuk wat in die lug hang is ondraaglik.

“Die SAMRK-klagte volg nadat AfriForum op 12 Augustus ’n brief aan die Emfuleni-munisipaliteit oor die rioolprobleem gestuur het, maar geen terugvoer ontvang het nie. In die brief sê AfriForum dat riool in die CW-gebiede opbou as gevolg van rioolpyplyne wat in duie stort omdat dit nie in stand gehou word nie.”

Verder in hierdie brief het AfriForum geëis dat die munisipaliteit toesien dat ’n aksieplan opgestel en geïmplementeer word om die rioolpyplyne in die CW-gebiede te herbou.

Een van die erwe in die CW-woonbuurte waar die rou riool duidelik sigbaar is.

Die organisasie het ook versoek dat:

* mangate wat oorloop dringend aandag geniet;

* verstopte afvoerpype oopgemaak word;

* stukkende afvoerpype vervang en toegemaak word;

* areas wat reeds besoedel is, skoongemaak word; en dat die munisipaliteit AfriForum voorsien van sy aksieplan vir die instandhouding van die rioolinfrastruktuur om te voorkom dat riool weer in die pype opbou.

“Dit is onaanvaarbaar dat die Emfuleni-munisipaliteit so blatant mense se regte skend deur hulle in sulke haglike omstandighede te laat woon, omdat die munisipaliteit onbevoeg is om hul werk te doen.

“Die munisipaliteit het ’n baie swak reputasie oor hul onvermoë om die rioolprobleem op te los,” sluit Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand af.

Die riool hou ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners in.

You can read the full story on our App. Download it here.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button