Harry en MS Hoop sê dankie vir nuwe wiele

MS-lyer is dankbaar vir sy nuwe rolstoel.

SASOLBURG – Begin September het Rozaan Steyn van MS Hoop donasies gevra vir een van Sasolburg se MSlyers, Harry Prinsloo.

Harry (49) is 19 jaar gelede met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer. Alhoewel hy ‘n loopraam gehad het, het Rozaan die gemeenskap genader om vir hom ‘n rolstoel te kry.

Antionette en Harry Prinsloo. Foto: Gerda Bruinette

Die Vaaldriehoekers het weereens bewys dat hul oop hande en harte het vir hul mede-Valies.

Saterdag, 7 September, het Harry in sy splinternuwe rolstoel saam met sy mede-MS lyers die 4 Anker Gemeente se Lente Stap aangedurf.

Harry en sy vrou, Antionette het die 2km saam voltooi en hy sê die nuwe ryding bestuur lig en gemaklik.

“Namens MS Hoop wil ons sê baie dankie vir elkeen se bydrae met Harry se rolstoel, ons waardeer dit so baie. Baie dankie vir elke gebed, omgee en ondersteuning, ons by MS hoop waardeer dit opreg,” het Rozaan laat weet.

Rozaan se boodskap is: “MS Hoop gaan altyd op skenkings. Daar is altyd een van ons MS Warriors wat ‘n kierie, loopraam of rolstoel benodig.

“Dankie vir elkeen wat ons ondersteun. Bid asseblief vir ons MS Warriors. Elke dag is ‘n uitdaging vir ons, maar met gebede, omgee en ondersteuning veg ons moedig teen hierdie wrede siekte.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version