VAALPARK – Honderde motorgeesdriftiges het die naweek op The View on Vaal Resort by Abrahamsrust toegesak vir die herlewing van die bekende Wheels at The Vaal saamtrek. Vir ‘n beter venue kon daar nie gevra word nie.
Met dosyne stalletjies, honderde karre, oorgenoeg parkeerspasie en ‘n pragtige uitsig oor die rivier was dit ‘n belewenis.
Daar was ystersmitte, ou en moderne karre en selfs ‘n piepklein stoomlokomotief wat die mag en krag van stoomenjines gewys het toe hy ‘n bakkie met ‘n vrag kinders deur die oord gesleep het.
Die biertuin wat deur Op’i Plaas behartig is en verskeie kosstalletjies het die besoekers se innerlike versterk en hul dors geles.
Daar was braai geriewe vir diegene wat ‘n vuurtjie wou aansteek en ‘n swembad vir die kleinpan om in af te koel.
Oud en jonk het gestaan en droom terwyl hulle foto’s by hulle gunsteling karre geneem het.
Hoewel daar altyd ruimte vir verbetering is, was dit ‘n welkome terugkeer van een van die lekkerste motorskoue op die sosiale kalender.