Carien staal haar vir nuwe slegte nuus

Dokters vind twee nuwe kankerkolle en besluit nou op haar verdere behandeling

SASOLBURG. – Carien van Dalen, ‘n 16-jarige kankervegter van die dorp, was Vrydag (13 September) weer in Bloemfontein vir opvolgbehandeling nadat sy onlangs opnuut slegte nuus gekry het: Daar is twee nuwe kankerkolle weerskante van haar regter-eierstok.
Vaalweekblad volg Carien se behandelingspad sedert sy verlede jaar gediagnoseer en geopereer is. Haar stryd het einde November 2023 begin toe sy siek en naar begin voel het.

“In Desember het haar magie begin swel en sy het skielik baie gewig verloor. Ons het haar dokter toe geneem, wat ons aangeraai het om dadelik ‘n sonar te laat doen. Daarmee is bevind dat sy ‘n enorme gewas van 7 kg aan haar linkereierstok gehad het. ‘n Operasie is op 31 Januarie vanjaar in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gedoen om die gewas sowel as die eierstok te verwyder,” sê haar ma, Chrissie.

Carien kry sedertdien intensiewe kankerbehandeling waarvoor sy gereeld tussen Sasolburg en Bloemfontein moet reis. Volgens haar ma is Carien die afgelope maande fisies en emosioneel totaal uitgeput, hoewel sy steeds moedig teen die siekte veg. Die nuwe diagnose het hulle egter onkant gevang en Carien, sowel as haar gesin, gaan deur ‘n moeilike tyd.

“Sy het baie pyn in haar regterbuik. Ons wag nou om te hoor wat die dokters voorstel, maar sy het reeds self besluit dat haar regter-eierstok ook maar verwyder moet word as dit die aanbeveling gaan wees. Sy is hartseer maar sy bly positief,” sê haar ma.
• Enigiemand wat bereid is om ‘n donasie vir Carien se reiskoste en spesiale dieetkos te maak, kan ‘n inbetaling maak aan mev. C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.

Carien na een van haar chemobehandelings.
Carien tydens haar eerste chemo-sessie in Maart.
Op beter dae is Carien se pragtige glimlaggie terug, al lê daar nog harde werk voor om die kanker te klop.
Exit mobile version