Local newsNewsNews

Brawe seun se kop met breekyster oopgekloof

Gesin helder oor dag aangevl

VANDERBIJLPARK – ‘n Oudredakteur van Vaalweekblad, Retha Fitchat (64), en haar gesin is vroeër vandeesmaand  in ‘n huisroof aangeval en aangerand.

In haar joernalistieke loopbaan het sy al oor meer as 100 huisrooftogte verslag gedoen.

Op Vrydag, 6 September, het sy, haar man en seun egter self deel van die misdaadstatistiek geword toe hulle in hul huis in SE2 deur rowers oorval en aangehou is.

Volgens Retha het die oggend op ‘n hoë noot begin. Dit was haar man Ben se 74ste verjaardag en nadat sy en haar seun Barry (30) hom gelukgewens het, het elkeen met hul dagtake begin. Omstreeks 11:15 het Retha drie baie harde slae gehoor. Sy het haar deur oopgeruk en gesien dat drie mans Barry in die voorportaal omsingel.

“Hulle het in ‘n kwessie van vyf sekondes ons twee sterk sekuriteitshekke en voordeur met ‘n breekyster oopgebreek,” sê Retha. Sy is dadelik na haar slaapkamer en het met selfoon in die hand haar deur gesluit. Een van die mans het haar egter raakgesien en dié slot ook met sy breekyster oopgebreek.

“Hy het dadelik my selfoon afgevat en my na die voorportaal gesleep waar Barry met die ander Oudredakteur van Vaalweekblad, Retha Fitchat. twee geworstel het.

Hulle het daarin geslaag om hom grond toe te bring. Die voorbok het hom twee keer met ‘n ysterstaaf oor die agterkop geslaan terwyl hy lê. Hy wou ‘n derde keer slaan maar ek het by hom gepleit om dit nie te doen nie. Een het Barry toe baie hard langs die linkeroog geskop.

Die skade wat die breekyster aan Barry se kop aangerig het.

Hy was sowat ‘n halfminuut lights-out en het hewig gebloei.” “Hulle het my en Barry sitkamer toe gesleep, waar hulle hom onder ‘n swaar houtrusbank op sy borskas vasgepen en hom met ‘n kabel probeer wurg het. Hulle het ook sy hande vasgebind,” sê Retha.

“Een het sarkasties in Afrikaans vir my gesê, ‘Ouma, jy kan maar bid’, wat ek toe dadelik kliphard begin doen het.” “Ben het in dié stadium van buite af ingekom en niksvermoedend in die sitkamer ingestap.

“Ek het gedog dit was ‘n aflewering en dat die mans besig was om iets in te dra, maar toe sien ek vir Barry vol bloed onder die bank. Toe besef ek die verskrikking,” sê Ben, ‘n afgetrede elektriese ingenieur en oud-dosent. Barry het intussen bygekom en van nuuts af geveg.

In ‘n stadium was al drie rowers bo-op die bank om hom onder te hou.

Ben het sy kans benut en by die agterdeur uitgeglip en om hulp geroep. Een van die rowers het hom agtervolg maar het blykbaar nie geweet hoe om uit die huis te kom nie. “Barry en ek was skielik alleen in die sitkamer. Een het met gesteelde goedere by die voordeur uitgeharloop na hul voertuig en die ander twee was nog iewers in die kamers.

Ek het ‘n halfminuut tyd gehad om weg te sluip en ‘n noodboodskap op my skootrekenaar, wat op Facebook oop was, te los.

Al was dit onsamehangend, wou ek net ‘n boodskap uitkry.” “Ek is terug sitkamer toe, waar Barry steeds onder die bank gelê het. Ons motion detector se lig, wat ‘n klok in die huis laat lui, het skielik afgegaan.

‘n Rower het weer sitkamer toe gestorm en gevra wat dit was. Barry het gesê ‘it’s the police. They are coming for you!’

My gesteelde foon het in die rower se hand begin lui. Ek kon sien hy raak bekommerd. Hy het hard na sy makkers geroep en hulle is almal by die voordeur uit en weg in hul wynrooi SUV.”

Die aanvallers het die gesin se selfone en Barry, wat van die huis af vir ‘n IT-onderneming werk, se tafelmodel- en skootrekenaar gesteel.Verskeie lesers wat Retha se Facebook-boodskap gesien het, het hulp ontbied.

Binne sewe minute het dit gewemel van sekuriteitsdienste in die Fitchats se erf. ‘n Ambulans en die polisie was ook vinnig op die toneel.

Barry is per ambulans na Emfuleni Mediclinic vervoer, waar hy drie dae in die intensiewe sorg-eenheid behandel is. Hy maak goeie vordering en sterk nou in ‘n gewone saal aan.

You can read the full story on our App. Download it here.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za More »
Back to top button