VEREENIGING – Die naweek van 6-8 September sal nog lank onthou word vir die Hartklopfees by die Laerskool Vryheidsmonument.
Die lekkerte het Vrydag al begin en eers Sondagoggend met lofprysing en aanbidding saam met Mirandi tot rus gekom.
Deur die loop van die naweek het verskeie kunstenaars, onder andere Pieter Smith, Ricus Nel, Gerhard Steyn en Kurt Darren opgetree.
Speletjies en kompetisies was daar baie en die kleingoed het hul Saterdagoggend gate uit geniet in die kaskarwedrenne. Die ritte by die pretpark het ook almal aan die gil gehad.
Geen fees sou volledig wees sonder kos nie en daarvan was daar meer as genoeg, van boereworsrolle tot melkkos en kerrie en rys.
Die jongspan het veral die gesigverfstalletjie geniet, terwyl oud en jonk die kans aangegryp het om airbrush tattoos te kry.
Van die gesinne het karavane op die veld getrek en daar is heerlik gekuier en gekamp met goeie uitsigte oor al die bedrywighede by die fees.