Voormalige Valie Voortrekker oorlede

Hy het vir bykans vier dekades diep spore in die Vaaldriehoek getrap. Rus in vrede.

VANDERBIJLPARK- Mnr. Hoffie Williams is Sondagoggend in Jeffreysbaai op die ouderdom van 95 oorlede.

Hy sal onthou word vir die diep spore wat hy in die Vaaldriehoek se Voortrekker- en Afrikaanse Volksang- en Volkspelebewegings getrap het.

In die 1970’s en 80’s was sy vyf kinders in Hoërskool Transvalia en was hy betrokke by die skool waar hy as vryskutfotograaf menige skool- en sportfoto’s geneem het.

Williams is op 8 Oktober 1928 op Kariega (Uitenhage) gebore en was een van die topleerlinge in die 1945-matriekklas van die Humansdorp-hoërskool.

Hy is in 1953 met Anna Fouché getroud. Williams het na sy aftrede as elektrisiën by die eertydse Yskor, hom as natuurbewaarder bekwaam.

Vanaf die vroeë 1990’s tot laat 2000’s het hy by die Loerie-natuurreservaat gewerk.

Merkwaardig was Williams se vermoë om by te hou met tegnologiese veranderings.

Die uitgebreide familie het weekliks uitgesien na sy e-pos nuusbrief en hy het gereeld via video-oproepe met sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders in Kanada, Amerika en Brittanje gekommunikeer.

Sy humorsin was welbekend. Hy was lief om sy voertuie byname te gee. Sy laaste voertuig, ‘n Daihatsu, was Ietermago.

Sy selfgemaakte diefweringstelsel in Ietermago het bestaan uit ‘n opgestopte likkewaan wat op die paneelbord gelê het.

Williams word oorleef deur sy suster Anré en broer Japie, sy kinders William, Pieter, Henry, Fouché en Esther, 12 kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Exit mobile version