Hart eis geliefde oud-akademikus, prof. Hennie Weber

Hy en sy vrou Amari het dwarsdeur sy werksjare hul volle gewig by verskeie opbouende sake in die Vaaldriehoek ingegooi.

 

VANDERBIJLPARK. – Hartversaking het op 31 Augustus die lewe geëis van prof. Hennie Weber, ‘n bekende voormalige akademikus van die dorp. Hy het in die byna 40 jaar wat hy in Vanderbijlpark gewoon en gewerk het, diep spore op verskeie terreine getrap.

Duisende oudstudente van die Noordwes-Universiteit (destyds PU vir CHO) se Vaaldriehoekkampus sal hom onthou vir sy besondere kennis en opwindende lesings as professor in ekonomie.

Prof Weber is op 12 Maart 1936 as die jongste van agt kinders in Gobabis, Namibië (destyds Suidwes-Afrika) gebore. Nadat hy daar gematrikuleer het, het hy sy B Comm-graad en Onderwysdiploma aan die destydse PU vir CHO behaal. Hy het in 1961 tot die onderwys toegetree, verder studeer en in 1964 sy honneursgraad in Ekonomie en Bedryfsekonomie met onderskeiding verwerf. Dit is opgevolg met ‘n meesters- en doktorsgraad en hy het in dié tyd ook aan die universiteit begin klasgee. Die Weber-gesin het in 1976 van Potchefstroom na Vanderbijlpark verhuis toe hy as adjunkdekaan van die fakulteit Ekonomiese Wetenskappe na die Vaaldriehoekkampus bevorder is. ‘n Roemryke loopbaan het gevolg en hy het deur die jare nasionaal naam gemaak as ‘n kundige op vele van sy vakgebiede.
Hy was in sy jong dae ‘n kranige sportman: Sy gewigstootrekord het vir jare in Namibië gestaan en hy was in 1959 ook deel van die PU vir CHO se atletiekspan.

Hy en sy vrou Amari het dwarsdeur sy werksjare hul volle gewig by verskeie opbouende sake in die Vaaldriehoek ingegooi. Jaarlikse uitstallings is byvoorbeeld by hul Weber-kunsgallery gehou om fondse vir liefdadigheid en beurse in te samel. Die egpaar het ook vir twee termyne as onderburgemeesterspaar van Vanderbijlpark gedien.

Volgens die egpaar se dogter, me. Annerie Weber, het haar pa altyd baklei vir wat reg is. “As daar een ding was wat hy ons geleer het, was dit nederigheid en hy het ‘n geskinder gehaat. Hy was altyd bereid om enigiemand te help. Hy was gefokus, altyd betyds en voorbereid, en naas sy familie was sy werk eerste. Hoewel hy ‘n introvert was, was hy baie sosiaal, vriendelik en opreg. Hy kon ‘n bok vir sports wees en was altyd daar vir ons langs die ateletiekveld, netbal-, rugby- en hokkieveld – wen of verloor.”

Die Weber-egpaar het sedert 2018 by Annerie, ‘n politikus, in Mpumalanga gewoon. Prof. Weber word buiten haar en sy vrou ook oorleef deur hul dogter Elanie Grant en vyf kleinkinders. Die egpaar se seun, Deon, wat ‘n prokureur was, is ongelukkig in 2017 oorlede.
• Prof. Weber se troosdiens is Vrydag, 6 September by die Gereformeerde Kerk Middelburg-Sentraal gehou.

Wyle prof. Hennie Weber en sy vrou, Amari.
Exit mobile version