Ek sê maar net… Sy noem haarself ‘n kaasmonster

RUBRIEK - Die jongeling weet hoe om 'n gesprek met gemak te swaai, van basaars tot by naartjies, sushi en kaas.

RUBRIEK – Ek ontmoet die ses juniors in Laerskool Eligwa se voorportaal. Ons bondel personeelkamer toe.

“Gesels met mekaar,” beduie ek en gaan sit in die hoek om een vir een met hulle te gesels.

Een van die graad twees is tweede laaste aan die beurt. “Kan jy jou naam vir my spel?” vra ek.

Sy trek my luistervermoë in twyfel, en skryf haar naam plegtig in my notaboek. Milandri.

“Jou van?”

“Labuschagne.” Ek skryf neer. Sy maak seker ek het dit reg.

Sy het geen idee wat is die antwoord op die amptelike vraag wat ek haar vra nie.

Stuur met gemak die gesprek van basaars na haar pa se lekker hoenderresep en van daar na haar sussie wat langer is as haar ma en almal

“Sy is langer as jy ook,” beduie sy. Ek is nog by haar sussie, maar Milandri het aanbeweeg.

Ek hoor van hoe lief sy is vir naartjies, maar die laaste pakkie het moeilik geskil. Dis toe dat sy die naartjie op ‘n stokkie sit en met ‘n lepel uiteet.

“Dit was suikersoet.” Ek wil nog uitvra oor die naartjiestokkie toe trek sy haar gesig vreeslik.

“My sussie eet sushi. Dis aaklig. Ek haat dit regtig.” Milandri is blykbaar eerder een vir vrugte en wortels.

“Ek hou mos nie eintlik so baie van vleis nie,” sug sy asof dit swaar op haar gemoed lê.

Dan vrolik die gesiggie weer op. “Ek is ‘n kaasmonster met ‘n muis gemeng. Ek hou net van kaas wat jy self sny. Nie velletjie-kaas nie.

“Ek het my ma, my pa en sussie verander en nou eet ons nie meer velletjie-kaas nie.” (Dit blyk toe geprosesseerde kaas te wees.)

“Ek hou daarvan as die kaas warm is en dit stretch. Soos op ‘n warm ham en kaasbroodjie. Dit stretch so…” en sy beduie amper by haar oor verby.

Milandri haal ‘n slag asem. Ek kan sien sy wil nog iets sê. “Ag nee. As ek te lank wag, vergeet ek wat ek wou sê.”

Ek maak van die oomblik se stilte gebruik om die wakker kaasmonstertjie af te neem.

“Gaan jy nou onthou om jou ma te sê om die Vaalweekblad Vrydag te kry?” groet ek. “Ek weet nie, maar ek sal probeer,” lag sy en wikkel vrolik by die personeelkamer uit.

Exit mobile version