Onderwyser, sanger en liedjieskrywer

Hy is departementshoof by die Laerskool Parksig, en as hy kans kry sing David de Wet want dis in sy bloed.

VANDERBIJLPARK – David de Wet en musiek is onafskeidbaar. Op laerskool het hy in graad 7 besluit om rugby te los en by die skoolkoor aan te sluit.

“Ek was voor dit al baie lief vir musiek en sang. My Oupa Rudi was deel van ‘n boereorkes.

“‘n Familiebraai het gou in ‘n musiekaand ontaard wanneer die kitare en ander instrumente uitgehaal is. Dan het ons almal saamgesing,” vertel hy in sy departementshoofkantoor by Laerskool Parksig.

David de Wet is ‘n sanger en liedjieskrywer van formaat.

Self was hy in die voormalige Laerskool Historia (vandag Eligwa) en het hy aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer.

“Daar was ‘n tyd wat ek nie gesing het nie,” onthou hy. “In graad 8 het my stem gebreek. Ek was altyd ‘n sopraan, maar het skielik hierdie diep bariton stem gehad.”

Dit het hom ‘n paar jaar gevat om by sy nuwe stem aan te pas, maar in graad 11 was hy deel van ‘n Transvalia-kwartet wat die skool by kunstefeeste verteenwoordig het.

“Van daar af kon ek nie my bek hou nie,” lag hy lekker. David het onlangs sy tweede enkelsnit vrygestel.

Hy het Weet Jy Dan Nie geskryf na ‘n liefdesteleurstelling. “Ek kon die nag weer nie slaap nie en het onthou hulle sê as mens nie kan slaap nie, skryf jou gedagtes neer.

“Ek het my slimfoon nadergetrek en sommer net op die Notes begin tik.” Maande daarna het hy dit wat hy geskryf het vir sy suster gewys.

Sy het dadelik gesê hy moet dit met die wêreld deel. “Dit was vir my moeilik, want dit bevat ‘n stuk van my hart.”

Uiteindelik het hy besef die liedjie het hom gehelp om uiting te gee aan sy emosies.

“Ek het besef ek verdien ook om gelukkig te wees. Ek het waarde. Ek wil hê ander mense moet ook so voel nadat hul die lied geluister het.”

Weet Jy Dan Nie volg in die spore van Herbou wat hy in die Covid-tydperk geskryf het. Herbou bevat ook ‘n boodskap van hoop en saamstaan.

“Hierdie twee liedjies was die eerste liedjies wat ek self geskryf het. Ek gaan nog skryf,” sê David. Gaan luister en kyk gerus sy videos op YouTube en TikTok onder @daviddewetartist.

Exit mobile version