Koelkop oud-redakteur red gesin se lewens

Gesin helder oor dag in huis angeval en aangerand

VANDERBIJLPARK. – ‘n Noodkreet op Vaalweekblad se Facebookblad het waarskynlik die lewens van Retha Fitchat en haar gesin gered.

Retha, geliefde en bekende oud-redakteur van Vaalweekblad, is vroeër vandag saam met haar seun Barry en haar man Ben deur drie gewapende rowers in hul huis in Melt Brink Straat in SE2 aangehou, aangerand en beroof.

Die kriminele het toegang tot hulle huis gekry nadat hulle diefwering en die voordeur met ‘n koevoet oopgebreek het.

Retha het daarin geslaag om haarself in ‘n sykamer toe te sluit en op haar skootrekenaar ‘n noodboodskap op Vaalweekblad se Facebookblad te plaas, voordat hulle by die kamer ingebars het.

Vaalweekblad se lesers het ook flink opgetree en dadelik die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) ontbied.

Retha en haar gesin is aangerand. Haar seun Barry het glo die ergste deurgeloop. Hy is tans in ‘n hoësorgeenheid in die hospitaal vir die kop- en inwendige beserings wat hy in die aanval opgedoen het. Hy is twee keer met ‘n koevoet (crow bar) oor die kop geslaan en hy is verskeie kere deur die rowers geskop. Na wat verneem word is hy by sy bewussyn.

Volgens Elsje Vermeulen, hoofredakteur van Vaalweekblad en Ster, wat later op die toneel was het die rowers gevlug nadat ‘n deurklokkie afgegaan het.

“‘n Deurklokkie het volgens Retha afgegaan en toe die rowers vra wat dit is het sy vir hulle gesê dis die alarm. Hulle het toe gevlug,” vertel Elsje.

*Vaalweekblad wil ons Facebook-volgelinge bedank vir hulle flink optrede om hulp te ontbied.

Exit mobile version