Gerda Rudd: ‘n Blom is op Lentedag gepluk

Haar familie en vriende sal haar veral onthou vir haar innemende geaardheid en opregte belangstelling in ander se welstand.

 

VANDERBIJLPARK. – “Dit is veelseggend dat God vir Gerda, ‘n blom van ‘n mens, op Lentedag vir Sy tuin kom pluk het.” So lui een van die inskrywings op Facebook na die onverwagse dood van mev. Gerda Rudd op 1 September. Sy was die vrou van die bekende sanger Charles Rudd.

Volgens ‘n familiewoordvoerder is mev. Rudd Sondag na ‘n kort siekbed in die Midvaal-hospitaal oorlede. Sy was by talle aanhangers bekend vir die toewyding waarmee sy haar man se sangloopbaan ondersteun het en was deur die jare ‘n onmisbare steunpilaar by sy optredes.

Mev. Rudd is op 7 Mei 1950 in Vereeniging gebore en het op die familieplaas Driefontein grootgeword. Sy was een van die Laerskool Vaalrivier se eerste leerlinge. Sy het trouens ‘n wedstryd gewen om die skool sy naam te gee. Na voltooiing van haar skoolloopbaan by die Hoërskool Transvalia het sy as boekhoudster by die destydse Yskor gewerk. Na haar troue met Charles, 53 jaar gelede, het hulle na die Noordkus verhuis, waar hulle hul kinders grootgemaak het. Hulle het mettertyd weer na die Vaaldriehoek teruggetrek.

Gerda se familie en vriende sal haar veral onthou vir haar innemende geaardheid en opregte belangstelling in ander se welstand.

Buiten haar groot passie vir musiek was sy ook lief daarvoor om kerk toe te gaan, te brei en TV-sepies te kyk. Haar grootste liefde was egter vir haar man en kinders.
“Naas haar man was daar vir haar geen mooier mense as haar kinders en kleinkinders nie. Sy was so trots op elkeen,” sê die woordvoerder. Mev. Rudd word buiten haar man oorleef deur vier kinders, skoonkinders en nege kleinkinders.
Haar troosdiens word vandag, Vrydag, 6 September, om 10:00 by die Vaalrivier-gemeente in Vanderbijlpark gehou. Die gesin beplan om haar as volgens haar wense op die familieplaas Driefontein te gaan strooi.

Wyle mev. Gerda Rudd.
Wyle mev. Gerda Rudd was ‘n integrale deel van haar sanger-man, Charles, se musiekoptredes. Die egpaar was 53 jaar getroud.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version