Rêrig, dit was net koffie…en toe liefde!

Afgetree? Watwou... die twee pasgetroudes glo nie aan niks doen nie en is oral betrokke.

VANDERBIJLPARK – Dit het alles met ‘n koffie afspraak begin. Wel, soort van. John aka Bulldog (70) en Trish Gilmore (65) ken mekaar al jare so via die motorfietsklub.

John is een van die Centurions Vaal motorfietsklub se stigterslede. Uit die bloute het John haar gebel en gevra of sy saam met hom wil gaan koffie drink.

“Ek het nog gevra, ‘rêrig koffie?’,” lag Trish. Die een afspraak het baie geword en kort voor lank het hul alles saam gedoen.

Oktober 2023 was die twee saam met ander Centurions by die Buffalo Rally in Mosselbaai.

John en Trish Gilmore na hul Polar Bear Plunge in die hartjie van die winter in Ficksburg.

“Sy het so gestaan en kyk vir die ringe by een van die stalletjies toe sê ek sy moet een kies en met my trou,” vertel John.

Die res van die klub was so opgewonde oor dié verlowing, John was verplig om Trish weer die groot vraag te vra, maar op sy knie en voor die hele klub.

Die twee het die knoop deurgehak by ‘n informele geleentheid by die Centurions se klubgronde.

“Die tema was denim en lace en my kleindogter het die spyseniering en versiering gedoen. Almal het gehelp,” onthou Trish.

John erken hy het ‘n traan of twee afgevee toe sy bruid die paadjie afgestap het. “Ek het nie haar rok vooraf gesien nie en sy het so mooi gelyk.”

Alhoewel albei al afgetree is, sit die twee nie stil nie. Daar staan nie verniet vier motorfietse in die motorhuis nie. As die wiele draai is hul eerste op.

Trish was ook nie meer lus net vir saamry nie. Sy het hierdie jaar haar motorfietslisensie gekry.

“Nie almal kan sê hulle het op 64 leer bike ry en op 65 ‘n lisensie gekry nie,” vertel sy.

In Julie het die twee avontuurlustiges ook aan die Polar Bear Plunch in Ficksburg deelgeneem waar hul in ‘n ysige 4°C dam geswem het.

Hulle beplan om dit volgende jaar weer te doen. John is gebore in Newcastle, Engeland en het saam met sy ouers in 1970 na Suid-Afrika verhuis.

Sy pa, John Gilmore (sr) het later as meester vormgieter (moulder) by Vikor in Vanderbijlpark gewerk.

Trish was in Vanderbijlpark op skool en het daarna verpleegkunde geswot. Na vele omswerwinge is sy nou al etlike jare weer terug in die Vaal en John gaan seker maak sy bly.

Exit mobile version