MS Hoop wil nuwe rolstoel vir Harry kry

Te midde van Harry se uitdagings het diewe ook vroeër vanjaar sy voertuig gesteel.

SASOLBURG. – Veelvuldige sklerose, in die volksmond bekend as MS, is ‘n komplekse neurologiese afwyking wat die sentrale senuweestelsel aantas. Dit veroorsaak ‘n wye reeks simptome en uitdagings vir lyers.
Mnr. Harry Prinsloo van Sasolburg is een so ‘n lyer. Dié 49-jarige pa ly al 19 jaar aan die toestand. Hy is medies ongeskik om te werk maar is ‘n aktiewe lid van sy gesin. Hy is in staat om met ‘n voertuig wat met handkontroles bestuur word, rond te ry, sy vrou werk toe en sy kind skool toe te neem. Hy help ook tuis met algemene huistake.

Hoewel Harry reeds vele uitdagings en hoë mediese uitgawes weens sy siekte het, was hy en sy gesin vroeër vanjaar ook slagoffers van misdaad. Hul voertuig met sy loopraam daarin, is in Februarie gesteel. ‘n Familielid kon hom intussen help met ‘n ander kar, en me. Rozaan Steyn van die hulpgroep MS Hoop, kon met die hulp van ‘n skenker ‘n nuwe loopraam vir hom kry.

Harry beweeg egter baie moeilik en benodig verkieslik ‘n nuwe rolstoel omdat sy oue besig is om in te gee. Sy buurman het hom al gehelp om die rolstoel se pype te las en versterkings in te sit, maar die pype kraak.

Rozaan, self ‘n MS-lyer, sê ‘n nuwe rolstoel wat lig genoeg is vir Harry om self op te vou, is teen R4 000 by Dischem beskikbaar.
“MS Hoop is nie ‘n geregistreerde NPO nie en ons werk net op skenkings wat in ons bankrekening inkom. As iemand dalk bereid is om by te dra vir ‘n rolstoel vir Harry, kan hulle my kontak by 060 500 2094,” vra Rozaan.

Mnr. Harry Prinsloo, ‘n MS-lyer van Sasolburg, benodig dringend ‘n nuwe rolstoel.
Exit mobile version