Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Joernalis sonder kamera? Ondenkbaar!

RUBRIEK - 'n Ander persoon se kamera is soos om 'n nuwe selfoon baas te raak, geen knoppies sit op die regte plek nie.

RUBRIEK – Tegnologie is wonderlik totdat dit mens in die steek laat. Nou die ander dag wil ek nog die jongspan afneem toe seg my kamera nee en weg is alle liggies.

Gelukkig kon ek die saak beredder met my slimfoon se kamera. Gaan laai die kamera se battery by die huis. Wag geduldig vir die liggie om groen te word.

Battery terug in kamera, maar daar gebeur niks. Ek haal weer uit, laai die battery weer. Terug in die kamera. Niks.

Dis my naweek aan diens en ek wil neig na benoud raak. Druk ‘n knoppie op my slimfoon en vertel my Geagte Redakteur van die probleem.

“Klink asof die battery gegroet het. Vra Maandag vir Annie om te help. Intussen kan jy my kamera gebruik.”

O jinne. Geagte Redakteur is ‘n fotograaf van formaat en dis haar privaat kamera wat sy gewilliglik in my relatief onbekwame hande laat.

Kry darem foto’s geneem, maar kom gou agter ek moet ver staan anders pas niemand in die prentjie nie.

Het die Saterdag amper konsternasie veroorsaak. So met die terug trap, terug trap toe loop ek amper my ma onderstebo.

Mag dalk na niks klink nie, maar Ma lyk soos ‘n o12 heelagter langs Eben Etzebeth as sy langs my staan.

Gelukkig was dit toe net my kamera se battery en was dit nie nodig om langer as ‘n week met die geleende kamera te arbei nie.

Dit was ‘n onbeskryflike verligting om die liggies te sien aangaan nadat ek die nuwe battery ingesit het. Die Geagte Redakteur se kamera het ek baie versigtig tot by Admin gedra en gevra hulle moet dit in hul groot kas.

Ek en Redakteur mis mekaar soms by die kantoor. “Jy dra daai kamera soos ‘n baba,” lag Penny.

“’n Kamera is soos ‘n baba,” seg ek, en plaas die kamera amper eerbiedig in Lise-Mari se arms.

Hulle lag, maar dis ‘n feit. ‘n Joernalis kan nie sonder ‘n kamera nie, want dan kan mens net die helfte van die storie vertel.

Wag, ek gaan net gou die nuwe battery laai voor ek vergeet…

Back to top button