Bekende in boks- en sakekringe gegroet

Tony Teixeira was 'n geliefde sakeman van die Vaaldriehoek wat ook diep spore op die terrein van boks getrap het.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende sakeman en oudbokser van die Vaaldriehoek, mnr. Tony Teixeira (72), is vroeër die maand na ‘n kort siekbed in die hospitaal oorlede.
Mnr. Teixeira is in 1952 in Pretoria gebore maar het as kind saam met sy gesin na Vanderbijlpark verhuis, waar hy aan Oliver Lodge Primary School en Vaal High School skoolgegaan het.
Hy was van jongs-af by nasionale boks betrokke en het hegte, lewenslange vriendskappe met talle bekendes in Suid-Afrika se bokskringe gesmee.

Hy was ‘n opgeleide yskas- en lugverkoelingstegnikus wat deur die jare ‘n gerespekteerde sakeman met sy eie besigheid in dié bedryf geword het.
Sy kleinseun, Brian Busse, beskryf hom as ‘n stil, saggeaarde en regverdige mens wat nooit op ander neergesien het nie. “Hy kon enige stressvolle situasie op ‘n rustige, kalm manier hanteer en het ‘n genotvolle humorsin gehad,” sê Brian.

Mnr. Teixeira het sy belangstelling in sport tot in sy gevorderde jare behou en was ‘n groot Sharks-ondersteuner. In sy vrye tyd het hy graag houtwerk gedoen, maar sy grootste genot was om saam met sy familie te kuier. “Sy kleinkinders was alles in sy lewe,” sê Brian.
Mnr. Teixeira se roudiens is verlede Maandag by die Rooms-Katolieke Kerk in Vanderbijlpark gehou. Hy word oorleef deur sy vrou, vier kinders, twee skoonseuns, 10 kleinkinders, een agterkleinkind, twee broers en ‘n suster.

 

Wyle mnr. Tony Teixeira.

Exit mobile version