O jinne…Ouma kom kuier binnekort!

Kom beleef Ouma (Margit Meyer-Rödenbeck) in Ouma is Op Pad, Sondag, 08 September in Sasolburg. Lees meer...

SASOLBURG – Dowwe Dolla het amptelik afgetree in 2021, maar haar ouma het besluit sy is nog lank nie uitgekuier nie.

Ouma reken sy het nie haar kleindogter nodig om die land plat te reis nie. Sondag, 8 September kom draai sy in die Etienne Rousseau Teater om 15:00.

Kyk, dié ouma is nie die stil, rustige, sit op die stoep en brei ‘n kombersie tipe nie.

Nee, sy is oorspronklik van Garies en soos meeste mense van daardie wêreld is sy ‘n formidabele vrou. In die knersvlakte word jy nie groot met luukshede soos doekies omdraai nie.

Sy het al twee mans begrawe maar haar bure vermoed die laaste een het net ingesluimer.

Taktvol is sy nie. Sy sê ‘n ding soos wat sy dit sien en tans is daar baie goed wat sy nie heeltemal verstaan nie, maar op haar baie reguit manier ontrafel.

Margit Meyer-Rödenbeck vertolk die rol van Ouma en Coenraad Rall speel die klavier. Die teks, lirieke en regie van Ouma is Op Pad word behartig deur Jurgen Human.

Hierdie is komedie met skop en weereens ‘n bewys van MeyerRödenbeck se uitstekende toneelspel asook haar fyn waarneming van mense en hul dinge.

Kom kuier saam en hoor Ouma se weergawe van die waarheid tussen jou lagtrane deur. Kaartjies is beskikbaar by www.ertickets.com. Ouderdomsbeperking is 14 jaar.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version