Dit was ‘n eersteklas reünie

Dit was raakvat vermaak en 'n meesterlike vertolking deur die immergewilde Frank Opperman

SASOLBURG – ‘n Skoolreünie op ‘n Sondagmiddag. Dis hoe dit gevoel het. Die een oomblik was ons nog in die teater en die volgende oomblik deel van die matrieks van 1980 se reünie.

Frank Opperman het die gehoor dadelik ingetrek, deelgemaak van ‘n tipiese byeenkoms.

Johan Cronjé van Vanderbijlpark en Frank Opperman. “Frank het homself oortref in hierdie stuk,” sê Johan.

‘n Komedie? Nee, dié eenmanvertoning kan nie bloot ‘n komedie genoem word nie. Daarvoor is daar veels te veel oomblikke van herkenning, skok en hartseer alles met deernis aangebied.

Want Opperman, wat elkeen van die 11 karakters met oortuiging vertolk het, kon bykans enige reünie van die matrieks uit die 80’s tentoongestel het.

Die meesterskrywer agter die stuk is Dana Snyman. Hy en Opperman is groot vriende. Daar is lank geskaaf aan Die Reünie maar die resultaat is fenomenaal.

Willemien Olivier, Enid Kruger, akteur Frank Opperman, Cobus Olivier en Hein Kruger na die vertoning. Foto’s: Gerda Bruinette

Raakvat beskrywings en karakters wat ons almal ken. Mee kan identifiseer. Van die hoofseun wat nou al jare oorsee bly tot by ou Boesman wat totaal en al bossies van die grens teruggekeer het, nooit weer sy voete kon vind nie en nou vrede in ‘n bottel soek.

Lekker gelag, aan ‘n knop in die keel gesluk, maar ook met baie gelaat om oor na te dink.

Soos die teatergangers die Etienne Rousseau Teater verlaat het, het positiewe kommentaar van oral opgeklink.

Die enigste teleurstelling was die besef dat toe die ligte aangaan daar nie regtig gelaaide tafels en die braaivleisvure agter die saal gewag het nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version