Vaaldriehoek duo doen dit weer

Sedert 2018 het die manne al verskeie musiektoekennings ingepalm en nou het hul dit weer gedoen

VANDERBIJLPARK – Weco van Basten en Jopie Pienaar is bekend as Victor Bravo. Die duo maak al van 2018 af saam musiek.

Verlede week het hul vir ‘n vierde keer ‘n Afri-Indie-toekenning in ontvangs geneem. Hierdie jaar was dit vir Beste Duo Enkelsnit – Afrikaans: Victor Bravo – Lê my neer.

Van Basten het die lied geskryf. Hy sê: “Lê my neer gaan oor die ongevraagde, onverwagte en dikwels onwelkome liefde wat ’n mens het vir die plek waar jy vandaan kom, in ons geval die Vaaldriehoek.

“Dit gaan oor my eie diep liefdesverhouding met hierdie plek wat my met swael en yster en sukkel gebreek en gebou het.

“Dis die plek waar my pa begrawe is, waar ek my vrou ontmoet het, waar ek getroud is, waar ek op skool was, waar ek myself verloor en weer gekry het.

Victor Bravo se Jopie Pienaar en Weco van Basten. Foto: Gerduan Kemp

“Dis ’n plek waar mense partykeer wil bolle rol, maar hulle laaste sny brood met jou sal deel. Hier het ek ’n man geword, ten spyte van my beste pogings om ’n dom kind te bly. Ons almal hier is net mense van die misweer.”

Lê my neer volg in die voetspore van Solank die liefde bly (2022) wat ’n Melomaan-toekenning ontvang het vir beste duo-enkelsnit.

Suiderkruis (2022), Skemer (2019) en Breakway Line (2018) het elkeen met ’n Afri-Indie-toekenning (beste kontemporêre enkelsnit, beste duo-enkelsnit en beste algehele enkelsnit) weggestap en vir verskeie weke bo-aan treffersparades regoor die land gekuier.

Exit mobile version