Local newsNews

Gebrek aan padverf lei tot vele botsings

Die verantwoordelike owerhede sal almal 'n groot guns bewys as hulle waarskuwingstekens op die paaie laat aanbring, sê sakelui in die ligte nywerheidsgebied langs die Barragepad

 

VANDERBIJLPARK. – Sake-eienaars en werknemers in die dorp se ligte nywerheidsgebied (CE6) sê hulle is bekommerd oor die groot toename in motorongelukke in hul omgewing. Van die beswaardes wat hul kommer met Vaalweekblad gedeel het, skryf die botsings daaraan toe dat daar nie waarskuwingstekens op die paaie geverf is nie.

“Hoewel hier padtekens soos stoptekens en toegeetekens op borde by kruisings is, is hier nie waarskuwings op die paaie geverf nie. Mense wat nie gereeld hier ry nie, ken nie die paaie nie en sien die waarskuwingsborde soms te laat raak. Hulle ry dan oor stopstrate en toegeetekens sonder om dit te besef. As daar waarskuwings op die paaie geverf was, sou hulle betyds geweet het daar is ‘n stopstraat voor,” sê een van die sakemense.

Dit is glo veral motoriste wat uit die kleiner systrate van CE6 ry, wat te laat besef hulle is reeds binne-in die kruising met Edison-boulevard. Laasgenoemde is ‘n besonder besige pad, dus loop motoriste wat nie by die kruisings stop nie ‘n groot gevaar om teen aankomende voertuie te bots.

Mev. Kobie Cochrane, ‘n werknemer van PG Glass, sê hul kantore kyk uit op een so ‘n kruising – dié tussen Edison-boulevard en Fraserstraat. “Hier is telkemale ongelukke. Motoriste kom teen ‘n redelike hoë spoed van die Barrage-pad af as hulle in die ligte nywerheidsgebied indraai, en besef nie daar is stop- of toegeetekens voor nie. Die verantwoordelike owerhede sal almal ‘n groot guns bewys as hulle waarskuwingstekens op die paaie laat verf,” sê sy.

In ‘n onlangse botsing by dié kruising het ‘n afleweringstrok en ‘n voertuig van EJ Auto Body Repairs mekaar digby PG Glass. Vaalweekblad kon nie die betrokke partye vir kommentaar bereik nie, maar minstens een persoon is in die ongeluk beseer en per ambulans hospitaal toe geneem.
* Vaalweekblad het sakemense van CE6 se versoek vir die aanbring van geverfde padtekens aan die plaaslike verkeersafdeling oorgedra.

Een van die voertuie wat erg beskadig is in ‘n botsing wat in Edison-boulevard plaasgevind het.
Omstanders kyk toe terwyl ‘n beseerde na die ongeluk per ambulans hospitaal toe geneem word.

Back to top button