Vaal se Elrigh gee Bokke skop

Hy word nie verniet as die volgende Dwayne Vermeulen beskou nie

VANDERBIJLPARK. – Wanneer die Springbokrugbyspan môre-oggend om 06:30 (SA-tyd) op die Suncorp Stadion in Brisbane, Australië aandurf gaan een Vaaldriehoekse pa, Dawid Louw, se vaderhart oorborrel van trots wanneer sy seun, Elrigh vir die Bokke uitdraf.

Hoewel Elrigh sy debuut in 2022 teen Wallis op Loftus Versfeld gemaak het, is dit die eerste keer dat hy vir die beginspan uitdraf. Die mededinging vir die nommer8-trui in die Springbokoefengroep is bitter straf en om die ja-woord van die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus en die keurders te kry is ʼn groot eer.

Die Springbokke se rekord op die Suncorp Stadion in power met slegs 1 sege in 11 probeerslae. Die Bokke kon laas in 2013 die Wallabies op die Suncorp Stadion klop en sal sy veldtog in die Castle Lager Rugby Kampioenskap op ʼn wennoot wil afskop.

Op die vraag of hy ooit verwag het dat sy seun vir die Springbokke sou speel is hy baie eerlik.

“Realisties. Nee, nie werklik nie. Van laerskool af is daar altyd een speler wat uitstaan vir wie jy die bal wil gee. Elrigh was nooit daardie speler nie, hy was altyd ‘n goeie speler.  Hy het nie  Grant Khomo of laerskole Cravenweek gespeel nie. As mens net kyk dat hy Springbok nr 922 is, gee dit mens ‘n idee hoe min ouens dit regkry.

Ek dink die eerste keer dat die penny gedrop het dat hy dit kan maak is toe hy by HS Transvalia in gr. 11 as kaptein van die eerste span gekies is. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat ʼn gr. 11-leerling dit kon regkry,” vertel sy pa Dawid.

Volgens Dawid vra mense hom hoe het Elrigh dit reggekry om vir die Springbokke te speel.

“Karakter, harde werk en afrigbaarheid. Daar is nie een paadjie nie. Elrigh se gr. 12-Cravenweek was baie average. Daar is baie talentvolle spelers. As jy nie hard werk en coachable is nie gaan jy dit nie maak nie.”

Volgens sy pa is hulle baie aan Tiaan Liebenberg, sy o/19-afrigter verskuldig wat gesorg het dat Elrigh in aanmerking vir die junior Springbokke gekom het.

Van nederigheid en trots sluk kan mens Elrigh ook niks leer nie. “Toe hy by Kovsies aangekom het, het hy nie eers die Young Guns-span gehaal nie.

Hy was baie upset, maar het aangehou werk. Toe hy met ʼn senior kontrak by die Bulle aangekom het, het Jake White hom na die juniors gestuur.

Hy was hartseer maar het met sy karakter, harde werk en coachability homself opgewerk,” het sy pa Dawid trots aan Vaalweekblad gesê.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version