Na 65 jaar saam word dié liefde net sterker!

Dié liefdevolle verhouding het al in 1955 in Vanderbijlpark begin toe Koos en Johanna onderskeidelik maar 19 en 14 jaar oud was

 

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van mnr. Koos en mev. Johanna Joubert het vroeër die maand ‘n uitsonderlike mylpaal saam met die egpaar gevier: Hul 65ste huweliksherdenking. Te oordeel aan hul liefevolle kyke na mekaar, is die egpaar se liefde vandag nog sterker as toe hulle in 1959 voor die kansel gestaan het.
Dié eenmaal-in-‘n-leeftyd-liefde het reeds in 1955 in Vanderbiilpark begin toe Koos, destyds 19, vir Johanna en haar twee susters in ‘n buur-erf hoër op in sy straat, raakgesien het. Johanna was maar ‘n brose 14 jaar oud maar Koos het destyds reeds gedink dat sy ‘n pragtige vrou gaan word – min wetend dat hy eendag met haar gaan trou.

Die twee se paadjies het deur die volgende jare soms gekruis maar hulle het mekaar eers behoorlik leer ken toe albei by die destydse Jeugbond aangesluit het. Komende uit baie streng huise sou hul ouers nie die “groot” ouderdomsverskil van vyf jaar goedkeur nie, maar heimlik het hulle sterk gevoelens vir mekaar ontwikkel. In 1957 het Koos en Johanna stilweg ‘n paartjie geword.
‘n Terugslag het hul ontluikende liefde getref toe Johanna kort daarna saam met haar ouers stad toe moes verhuis. Koos, wat toe reeds gewerk het, kon net naweke met sy 1936 Ford deurry om vir haar te gaan kuier. Die naweekkuiertjies was vir albei baie spesiaal omdat daar nog nie die luuksheid van gereelde foonoproepe was nie.
Nadat Koos in Desember 1958 sy vakleerlingskap voltooi en ‘n volwaardige ambagsman geword het, het hy besluit hy het genoeg van dié langafstand-liefde gehad. Nadat hy Johanna en haar ouers se jawoord gekry het, is hulle ses maande later, op 4 Julie 1959, in die NG Kerk Pretoria-Wes getroud.

Tyd vir ‘n wittebrood was daar nie want Koos en Johanna moes die volgende dag terugry na sy woonstel in Vanderbijlpark omdat hy die Maandag weer moes werk. Hoewel hulle nie ‘n wittebrood gehad het nie, skerts Koos dat hulle darem wel ‘n “toebroodjietyd” gehad het omdat Johanna elke dag vir hom broodjies moek inpak werk toe.
In 1960 raak Johanna swanger met hul eerste kind en die egpaar besluit om huis te koop want hulle wou hul kinders nie in ‘n woonstel grootmaak nie. Hul drieslaapkamerhuis in Vanderbijlpark het ‘n hele 3 200 pond gekos.

Koos en Johanna, nou onderskeidelik 87 is 82, is deur die jare geseën met vier kinders, agt kleinkinders (van wie hulle ongelukkig ‘n kleinseun in 2004 in ‘n motorfietsongeluk verloor het) en 12 agterkleinkinders, met die 13de enetjie wat in Oktober verwag word.
‘n Baie spesiale boodskap is tydens die viering deur hul kleinkinders aan die egpaar oorgedra: “Liewe Oupa en Ouma, vandag vier ons ‘n wonderlike mylpaal – julle 65ste huweliksherdenking! Wat ‘n ongelooflike reis van liefde, vreugde en samehorigheid het julle saam beleef. Oupa en Ouma, julle is die fondasie van ons familie, die bron van ons liefde en wysheid. Julle liefde vir mekaar is ‘n inspirasie vir ons almal, ‘n bewys van wat ware liefde en toewyding kan bereik. Julle het ons geleer wat dit beteken om deur dik en dun bymekaar te staan, om mekaar se hande vas te hou deur elke uitdaging en elke oorwinning. Dankie vir al die herinneringe, die lag en die trane wat ons gedeel het. Dankie vir die warmte van julle huis (en karavaan) en die liefde wat ons altyd daar vind. Mag julle nog baie jare van geluk en gesondheid saam hê. Ons vier vandag julle liefde, julle lewe, en die wonderlike pad wat julle saam gestap het. Mag hierdie spesiale dag gevul wees met liefde en seëninge, net soos elke dag van julle 65 jaar saam. Baie geluk met julle 65ste huweliksherdenking! Mag die liefde en vreugde wat julle deel, elke dag sterker word. Met baie liefde, Ons Almal”.

Volgens die egpaar se dogter, mev. Annatjie Koekemoer, was haar pa die laaste gedeelte van verlede jaar baie siek “maar met die genade van Bo, uitstekende dokters, my ma se liefde en versorging, die familie se omgee en natuurlik ook my pa se deursettingsvermoë en wil om gesond te word, is hy weer op die been en net so aan die gang soos voorheen!”
Tannie Johanna sukkel deesdae bietjie met die bene wat nie meer so lank en ver wil loop of staan nie, maar oor die algemeen is haar gesondheid ook steeds baie goed.

“Ons as familie is opreg dankbaar vir die geleentheid wat ons gehad het om op Saterdag, 6 Julie hul 65ste huweliksherdenking saam met hulle te kon vier. Dit was ‘n heerlike geselligheid by Barraca Restaurant en ons as gesin wil weereens almal bedank wat die spesiale geleentheid saam met ons gevier het. Ons wil ook dankie sê aan die bestuur en personeel van Barraca vir hul goeie & vriendelike diens!”

Nou sien die familie uit na die volgende groot vieringe: Oom Koos se 88ste verjaarsdag in September en tannie Johanna se 83ste in Oktober. “Alles net genade van Bo!,” sê hul familie.

Mnr. Koos en mev. Johanna Joubert tydens die viering van hul 65ste huweliksherdenking.
Mnr. Koos en mev. Johanna Joubert vandag.
Die egpaar op hul huweliksdag in 1959.

 

Exit mobile version