Krugerlaan vier 70ste met grasie

Veels geluk aan Krugerlaanskool, mag jul net van krag tot krag gaan.

VEREENIGING – Krugerlaanskool het Vrydag, 19 Julie hul 70ste bestaansjaar met styl gevier.

Vroegoggend was die pas-gerestoureerde pawiljoen al gepak met leerders en voor die pawiljoen het personeellede en gaste hul plek ingeneem.

Mnr. Pottie Potgieter laat die balonne in die skool se kleure vry.

Daar was heelwat meer as die oorspronklike 139 leerders en nege personeellede waarmee die skool in 1954 sy deure oopgemaak het.

Die skool is desjare geopen met die doel om praktiese vaardighede van leerders optimaal te onwikkel, terwyl daar steeds aandag gegee word aan die akademiese prestasie van elke kind.

Oor die jare het die skool gegroei tot die instelling wat dit vandag is. Merkwaardig om te dink dat in 70 jaar daar net vier hoofde by die skool was: mnr. T.E Scholtz, mnr. J.P Minnie, mnr. Vosloo en sedert 2011 mnr. Josef ‘Pottie’ Potgieter.

Dat die huidige hoof geliefd is onder leerders en personeel kon duidelik tydens Vrydag se verrigtinge gesien en gehoor word.

Die skoolkoor onder leiding van Ms StuliShaba het onder groot toejuiging opgetree.

Die pawiljoen, amptelik bekend as die Pottie Potgieter Pavilion, se dak het amper gelig toe mnr. Potgieter ‘n erekleure skoolbaadjie in ontvangs geneem het.

Tydens Vrydag se verrigtinge is daar gesing, gedans en ballonne in die skoolkleure vrygelaat.

Die skool het ook van die geleentheid gebruik gemaak om prestasietoekennings en sertifikate aan personeellede en leerders te oorhandig.

Exit mobile version