Ek sê maar net… Joernalis in die wolke

RUBRIEK - My foto wou ek hê en my foto het ek gekry, al het ek vir 'n paar minute vergeet ek is eintlik die joernalis wat op 'n afstand die foto's moet neem. Maar dis Mathys Roets!

RUBRIEK – Eintlik arbei ek mos in Vanderbijlpark, Sasolburg en Vaalpark, maar soms vind ek my weg na die res van die Vaaldriehoek.

Ek het op bakkiesblad gesien Eurekaskool het Mathys Roets as hul gaskunstenaar by hul Loslitdag loodsontbyt.

Het dit eers verby my laat gaan. Dis my kollega se area. ‘n Week voor die groot dag, vra my geagte redakteur of ek die funksie kan bywoon, my kollega moet Ster North doen daardie dag?

Ek onderdruk my opgewondenheid, stuur ‘n ja vir die redakteur en laat weet die skool ek gaan bywoon.

Probeer nonchalant wees. Die probleem is, ek is ‘n groot Mathys Roets aanhanger, al vir baie jare.

Op my boekrak pryk menige van sy CD’s en DVD’s. In my Pretoria-jare was ek ten minste twee tot drie keer ‘n jaar by sy vertonings.

Dié Vrydagoggend land ek aan dieselfde tafel as hy. Ek probeer konsentreer om met mense te gesels, foto’s te neem… net my normale semi-professionele joernalistieke self te wees.

Dit het nie lank gehou nie. Teen die tyd wat daai man, nogal een van my gunsteling liedjies, Koos du Plessis se Sprokie vir ‘n stadskind begin sing, toe vind die lastige trane self hul weg oor my wang. Dis vir my sielsmooi.

Tydens ontbyt kry ek skaars geëet, my brein werk oortyd. Ek wil ‘n foto saam met Mathys hê, maar wie kan ek vra? Hoe gaan ek dit regkry?

My naamgenoot, Gerda Janssen van Eureka het help organiseer en sit nêrens lank genoeg stil sodat ek haar kan vra nie.

Die tyd is besig om uit te loop. Ek onthou skielik hoe ek my ander sangheld, Coenie de Villiers, gaan groet het maar nie die moed bymekaar kon skraap om te vra of ek ‘n foto kan kry nie.

Ek is dan daar om die kunstenaar saam met ander af te neem.

Genoeg is genoeg. Basta met wat mense dink. Ek gaan oor tot aksie. Verklaar hardop Mathys moet maar my onprofessionaliteit verskoon, plak my kamera in die oorblufte Eureka skakelbeampte, Santie se hande en boender die adjunkhoof tydelik van haar stoel af.

Mathys is sy rustige self. Sit geduldig vir die foto en kyk so ewe saam met my op die kamera of die foto mooi uitgekom het.

Terug by die kantoor laai ek die foto summier op my bakkiesblad, in die wolke en baie trots. Inderdaad, wie het nou gedink ek kan steeds star-struck raak?

Exit mobile version