Jong Jayden doen sy deel langs die sportveld

Hy is 'n jongman op 'n missie. Jayden (11) laat hom nie deur bloed en ander beserings afsit nie.

MEYERTON – Min kinders sal die skoolvakansie gebruik om ‘n moeilike kursus of twee deur te werk, maar dis wat Jayden Broxam (11), ‘n graad ses leerder aan die Laerskool Republiek gedoen het.

Hy het sy First Aid Level 3 en Basic Firefighter kursusse deur die Midvaal Emergency Training Centre voltooi.

Jayden was reeds Saterdag, 13 Julie saam met sy pa, Riaan Jordaan, aan diens langs die rugbyveld by die NWU.

Hy het ‘n passie vir noodhulp en alles wat met traumabehandeling te doen het en droom daarvan om eendag ‘n trauma dokter te word.

Sy ma Jacké Labuschagne onthou Jayden het al as kleuter belangstelling getoon.

“Ek moes Waferin gebruik om bloedklonte te voorkom en my bloed gereeld laat trek. Elke keer het Jayden op my skoot gesit en kyk totdat hulle die pleister geplak het, dan het hy afgeklim en die naaste mediese tydskrif of boek gaan deurblaai.”

Sy ouers moes skriftelik toestemming gee dat hy die kursusse mag bywoon aangesien daar video’s gewys word wat jong kinders kan ontstel.

Hy is egter ‘n gebore helper en laat hom nie afskrik deur bloed of ernstige beserings nie.

Jayden is nie net ‘n bekwame noodhulpverlener nie, hy vaar ook akademies goed, geniet veral wiskunde en het homself al geleer kitaar en klawerbord speel.

“As daar ‘n probleem is, wil hy dit oplos, hoe meer kompleks die probleem, hoe meer geniet hy dit om ‘n oplossing te kry,” vertel Jacké trots.

Sy pa glimlag ook breed. Dit was vir hom lekker om Jayden die heeldag saam met hom langs die rugbyveld te hê.

“Ek verstaan nou hoekom is my ouers so moeg na ‘n sportdag. ‘n Mens moet die heeltyd op en af draf om die spelers te help. En ek het gehelp, al het van daardie groot rugbymanne my eers skeef aangekyk omdat ek so jonk is,” vertel Jayden terwyl hy nog ‘n vrolike deuntjie op die klawerbord speel.

Exit mobile version