Local newsNews

Na trauma oor sy ‘mensmamma’ moet Snippie ‘n nuwe tuiste vind

Snippie is op soek na 'n deernisvolle, geduldige en liefdevolle persoon wat hom sal toelaat om weer sy hart weg te gee. Gee aannemingsfooi sal gevra word nie.

 

VANDERBIJLPARK. – Vaalpets, ‘n dierehawe op Vaalview, is ‘n baken van hoop vir talle huislose troeteldiere. Hier word diere wat die trauma van verwaarlosing, besering of vereensaming beleef het, op hul pad na herstel gepamperlang totdat ‘n nuwe tuiste vir hulle gevind kan word. Hoewel hier talle suksesverhale is, is daar ook dié wat diereliefhebbers met groot hartseer vervul.
Een hiervan is Snippie, wie se gelukkige slothoofstuk nog geskryf moet word.

Dié reuntjie het in Februarie by Vaalpets beland nadat hy ‘n ooggetuie van sy eienaar se tragiese dood was. Die eerste paar weke het hy niks anders gedoen as om gedurig weg te kruip, te bewe en te huil nie. Hy was baie geheg aan sy “mensmamma” en het haar duidelik verskriklik gemis.

Snippie is intussen in pleegsorg geplaas maar sy pleegouer moet binnekort verhuis en kan hom nie saamneem nie. ‘n Geskikte nuwe eienaar moet in die volgende twee weke vir hom gevind word want hy sal nie in ‘n diereskuiling kan aanpas of oorleef nie. Hy is steeds erg getraumatiseer en baie bang vir ander honde. Hoewel hy al baie beter is, het hy nog ‘n lang pad na volle herstel voor en ontvang steeds depressie- en anti-angsmedikasie.
Wanneer hy iemand vertrou, hou hy daarvan om oor die kop gestreel te word en liggies in die nek gekrap te word. Hy sal jou volg waar jy ook al gaan.

Die vereistes, as jy dit wil oorweeg om hom ‘n permanente tuiste te gee, is dat daar geen ander honde moet wees nie en dat jy bedags tuis is sodat hy nooit alleen sal wees nie. Hy het hope geduld, empatie, liefde en ruimte nodig, verkieslik van ‘n bejaarde egpaar of bejaarde vrou. Geen aannemingsfooi sal gevra word nie. Snippie is op soek na ‘n deernisvolle, geduldige en liefdevolle persoon wat hom sal toelaat om weer sy hart weg te gee. As jy daardie persoon is, skakel asseblief vir Danielle van Rooyen by 082 650 6011, of Margie Calaca by 076 413 8873.

* Vaalpets is op die hoek van Fred Droste-rylaan en Huntslaan, Vaalview, Vanderbijlpark. Diereliefhebbers wat graag ‘n bydrae wil maak vir die versorging van diere soos Snippie, kan ‘n inbetaling maak aan Vaalpets, Standard Bank, Bankkode: 016641, Rekeningnommer: 026554933. Swift Code : SBZAZAJJ.

Snippie, die getraumatiseerde hondjie wat nou ‘n nuwe huis moet vind.

Back to top button