Wie het Donovan Rieger getref en weggery?

Waarskuwing. Die berig bevat 'n videoskakel wat sensitiewe kykers kan ontstel. Vaalweekblad se innige simpatie aan Mnr. Rieger se familie en vriende.

VANDERBIJLPARK – Mnr. Donovan Rieger is 17 Julie om 18:35 op die kruising van Barrageweg en Louis Trichardt-blvd deur ʼn voertuig getref.

Die kameras wat Mnr. Fanie de Jongh by die kruising geïnstalleer het, het die voorval vasgevang. Let wel, die inhoud mag sensitiewe kykers ontstel. Beeldmateriaal gepubliseer met die toestemming van Mnr. Fanie De Jongh en Mnr. Johnny de Sousa

Op die video kan duidelik gesien word, hoe Rieger wag vir die verkeerslig om groen te slaan alvorens hy begin oorstap.

Sekondes later het ʼn motor oor die kruising gejaag en Rieger getref. Die motor het voortgejaag en Rieger het in die pad bly lê.

Hartseer om te sien hoeveel ander motors het verby hom gery alvorens iemand uiteindelik stop, die pad afsper en nooddienste kontak.

Rieger is na die Sebokeng Hospitaal vervoer waar hy die volgende aand weens sy beserings oorlede is.

ʼn Familielid, mnr. Johnny de Sousa vra dat enige iemand wat die ongeluk gesien gebeur het, asseblief na vore kom.

Mnr. Fanie de Jongh, bekende sakeman van die dorp, het ook ʼn beroep op die bestuurder van die blou  Volkswagen Reef gedoen om hulself aan die polisie oor te gee.

Volgens De Sousa kan die familie nog nie begrafnisreëlings tref nie, aangesien hul nog vir die polisie wag vir verdere ondersoek.

Exit mobile version