Local newsNewsNews

Skoolhoof benoem vir Afri-Indie Toekenning

'n Eerste benoeming vir die groot Afri-Indie Musiektoekennings. Die wenners word 7 Augustus aangekondig.

VEREENIGING – Die leerders van die Silveroaks Montessori School in Heidelberg is trots op hul skoolhoof Sean Miles.

Hy is benoem vir ‘n Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaarstoekenning in die Electronic Dance Music (EDM) kategorie vir Beste Enkelsnit vir ‘Jodel dit 24’.

Sean sing al vandat hy twintig jaar gelede sy eerste buiging op die verhoog gemaak het. Hy was toe in graad 4 by Arcon Park Primary School.

Later het hy by Hoërskool Drie Riviere gematrikuleer. Hy het sy eerste album in 2013 vrygestel en daarna heelwat enkelsnitte.

Hierdie is die eerste keer wat hy vir só ‘n groot toekenning genomineer is. “Ek verkies om onafhanklik te sing. Alhoewel dit harde werk is, bly dit vir my lekker en kan ek my hand en stem aan enige genre waag,” sê hy.

Sean werk nou juis aan nuwe liedjies wat Country en dansnommers insluit. Hy is ook opgewonde om in Augustus as seremoniemeester by die Outjo Wildsfees 2024 in Namibië saam met van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars soos Leah, Jay en Steve Hofmeyr op te tree.

“Ek doen wat ek doen met passie. Jy moet doen waarvoor jy lief is. Ek is gelukkig dat ek musiek en die onderwys het waarin ek myself kan uitleef.”

Sy musiek is beskikbaar op al die musiekplatforms onder sy naam, Sean Miles.

Back to top button