Onverwagse ‘wonderbaba’ nou ‘n skattige pienkvoet!

"Amore is nou spekvet en gesond. Sy slaap goed en eet al bietjie vaste kos," sê haar ma.

 

MEYERTON. – Op 1 Maart vanjaar het ‘n gesonde babadogtertjie uit die bloute haar opwagting gemaak – tot konsternasie én vreugde van haar ouers. Die onverwagse geboorte het Vaalweekblad se voorblad gehaal en ook duisende lesers se belangstelling op sosiale media geprikkel.
Klein Amore van der Schyff is nou 4½ maande oud en haar ouers, Caroline (29) en Willem (48), kan uiteindelik meer ontspanne terugkyk na die skokkende gebeure van 1 Maart toe hulle onverwags ouers geword het.

Caroline en Willem het die betrokke dag van hul woning in Kookrus na Meyerton se sakesentrum gestap toe Caroline so 3 km van hul huis af onuithoudbare maagkrampe en rugpyn begin kry het. Sy het in Gallowaystraat gewag terwyl Willem verder gestap het om hulp te probeer vind. ‘n Begrafnisondernemer hoër op in die straat was bereid om Caroline huis toe te neem, onbewus daarvan dat sy in kraam was. Caroline het dit sélf nie eens besef nie. By die huis het sy op haar bed gaan lê en was net so verras soos haar ouma en Willem toe sy ‘n rukkie later geboorte aan ‘n volmaakte, voltermyn dogtertjie skenk. Die paartjie het bleekgeskrik vir Caroline se ma by haar werk gebel en reëlings getref dat ‘n nooddiens, Afri Guard, die naelstring kom afbind. Caroline en die kleinding is na die Sebokeng-hospitaal vervoer, waar vasgestel is dat albei in ‘n uitstekende toestand was.

Wat die geboorte so uitsonderlik gemaak het, was dat Caroline van jongs af aan ‘n toestand ly wat dit medies gesproke onmoontlik vir haar sou maak om kinders van haar eie te kon hê. Willem het ook op ‘n jong ouderdom ‘n besering opgedoen wat die kanse gering gemaak het dat hy ooit ‘n pa sou kon word. Caroline het egter bly bid vir ‘n baba en het deur die jare gereeld gebedsversoeke by haar kerk laat plaas in die hoop dat sy swanger sou raak. Omdat sy nie normaal gemenstrueer het nie en geen tekens van ‘n swangerskap getoon het nie, het sy nie besef daar was ‘n baba op pad nie. Sy het nog tot kort voor die bevalling ver ente gestap en gereeld fiets gery.

Die paartjie het besluit om hul dogtertjie Amore Amanda te doop omdat dit onderskeidelik “Liefde” en “Geskenk van God” beteken. “Amore is nou spekvet en gesond. Sy slaap goed en eet al bietjie vaste kossies,” sê ‘n stralende Caroline. Die kleinding is duidelik ‘n ligstraal in haar ouers en haar oumas se lewe. Hulle beskou haar steeds as ‘n perfekte “wonderwerk” wat deur die Here vir hulle gestuur is.

Carolline en haar ouma, kort na die bevalling.
‘n Trotse pa Willem met klein Amore, kort na haar geboorte.
Caroline en Willem kort na hul kleinding se geboorte.
Amore is nou ‘n gesonde, aktiewe baba van byna 5 maande.
Nog ‘n foto van Amore wat nou byna 5 maande oud is.
Caroline en Willem het besluit om hul dogtertjie Amore Amanda te doop omdat dit onderskeidelik “Liefde” en “Geskenk van God” beteken.
Die trotse ouers met hul oulike, gesonde baba.
Exit mobile version