Jong entrepreneur woeker met bak-talente

Net 11 jaar oud, maar Limarize Viljoen woeker met haar talente en samel fondse in om self vir haar Avontuurkamp in September te betaal.

VANDERBIJLPARK – ‘n Boer maak ‘n plan en as jou naam Limarize Viljoen is, dan maak jy sommer groot planne.

Dit het alles begin toe Limarize besluit het sy wil in Oktober op ‘n Avontuurkamp gaan.

Dié graad 6-leerder van Laerskool Emfulenipark het besef R3 500 is baie geld. “Ek kan nie dat my ma vir alles betaal nie. Ek vra nie geld nie, ek werk vir my geld,” beduie sy.

Ouma Sophia Putter en haar kleindogter Limarize maak ‘n gedugte span. Foto’s: Gerda Bruinette

Sy en haar ouma, Sophia Putter, het in die vakansie gekoukus en ‘n blink idee gehad. Hulle gaan mini-donuts (oliebolle) bak en verkoop. So gesê, so gedaan.

Met Ouma Sophia wat die eerste bestanddele voorgeskiet het, het familie en vriende binne dae aan die lekkernye geëet.

Die woord het versprei en nadat ‘n advertensie ook op Vaalweekblad se facebookgroep geplaas is, het die bestellings begin instroom.

Die duo het 1 Julie begin en teen 8 Julie het hul reeds 46 dosyn gebak en verkoop.

Met Vaalweekblad se besoek is daar juis ‘n nuwe geur probeer, suurlemoen met klapper. Dit beloof om ‘n treffer te wees, nes hul sjokolade met klapper, wat jou beslis aan ‘n ystervarkie herinner.

Elke mini-donut word met liefde gemaak en individueel versier.

Die twee werk tans net op bestellings. “Ons moet darem so 24 uur vooraf in kennis gestel word en doen enige kleure,” vertel Sophia.

Limarize geniet die bakkery en versiering Ouma so baie, dat sy daarmee wil aangaan selfs nadat sy genoeg geld ingesamel het.

Tans verkoop hul die kaneelsuiker-donuts teen R20 per dosyn en die ander geure en kleure teen R25 per dosyn. Om te bestel kan Sophia gekontak word by 082 960 4691.

Wanneer Limarize nie besig is om saam met haar ouma te bak en te brou nie, geniet sy dit om te hekel, en te dans.

Skool is vir haar ‘n groot lekkerte, met wiskunde, geskiedenis en natuur wetenskappe as haar gunsteling vakke. Sy is ook deel van die skool se spreekkoor.

Alhoewel sy die bakkery geniet, droom sy daarvan om eendag met diere te werk. Vir nou woeker sy om daardie groot Avontuurkamp in Oktober te kan bywoon.

Exit mobile version