Merkbare verbetering met SW2-betonmuur

Misdaad in SW2 het gedaal

VANDERBIJLPARK – Mens kry praters en doeners in die lewe.

Die laasgenoemde is so skaars soos hoendertande. Twee Vaaldriehoekers wat beslis in die laaste kategorie val, is Hennie van Tonder en Roelof du Plessis, twee inwoners in SW2 Vanderbijlpark.

Dié twee raakvatters het in ‘n kort rukkie vermag wat sedert die 80’s net ‘n droom was en dit is om ‘n muur langs die R57-snelweg te bou. “Die hoofdoelwitte is om SW2 te beveilig en die huise in dié omgewing se waarde weer te laat toeneem,” verduidelik Hennie.

Die destydse Transvaal Paaie het die inwoners se aansoeke afgekeur en verskeie pogings in die 80’s, 90’s en 2000’s het skipbreuk gelei. Hennie en Roelof het egter die wyse besluit geneem om hulself met ‘n groep staatmakers te omring en hulle word tans deur die SW2 Monitoring Access Association Constition komitee bygestaan.

Die ander verkose komiteelede is: Niekie Peters, Hugo van Tonder, Sibongile Sebata en Dr. Kobus Scholtemeyer (ad hoc). Die proses om toestemming te verkry was ‘n noukeurige en tydsame affêre, maar met behulp van JP Squirra van die plaaslike munisipaliteit het die inwoners daarin geslaag om toestemming by onder meer Sasol, Gautrans, Mittal, Opensure en Air Products te kry.

Hennie-hulle het na vergaderings met inwoners bepaal dat daar sowat 390 huishoudings in die SW2 area is en dat ‘n bedrag van R3 000 per huishouding genoeg sou wees om die bou-area skoon te maak en die betonmuur op te rig.

“Ons het besluit om ‘n betonmuur te bou, want dit is goedkoper om te bou en te onderhou,” gee hy te kenne. Die projek bestaan uit ‘n Noorde en Suide kant en hoewel die komitee wou wag om die bouwerk eensklaps te voltooi, was hulle genoodsaak om te begin bou voordat hulle toestemmingstydperk (wayleave) sou verstryk. Bouwerk het op 3 Junie begin.

Volgens Hennie het die inwoners en eienaars van sakeondernemings spoedig R335 000 ingesamel. Hulle

benodig egter nog fondse om die projek te voltooi. Hennie-hulle is tans besig om die fynere besonderhede af te handel, sodat advertensiespasie op die muur verkoop kan word.

Die muur begin by die Vaal Mall se nuwe ingang op die R57 en strek al langs die SW2 woonbuurt af, verby die Palms Boutique Aftree Oord. Die Oord se eienaar het ook ingestem om sy bestaande muur tot 2.4m te lig. *Diegene wat belangstel om by die projek betrokke te raak of ‘n skenking wil maak kan Hennie by 083 229 8117 kontak.

Exit mobile version