Vrystaat-koue verdryf met topklas vermaak

Dit was 'n middag om te onthou. Neil Sandilands en Die Band mag maar.

SASOLBURG – Neil Sandilands en Die Band het dit verlede jaar gedoen en op 7 Julie weer. Skuins na 15:00 Sondagmiddag het die ligte verdoof in die Etienne Rousseau Teater en het die manne hul plek ingeneem.

Neil Sandilands en Roman Skillen in aksie op die verhoog. Foto’s Gerda Bruinette

Die eerste note het weerklink en van begin tot einde was die gehoor getoor met musiek in Afrikaans wat heerlik op die oor val.

Dit, saam met Neil se staaltjies, het die tyd verby laat vlieg. Na die vertoning het die teatergangers tougestaan om ‘n woordjie of drie met Neil, Schalk Joubert, Frank Freeman en Roman Skillen te voer.

Daar is geduldig gewag om foto’s te neem en die manne moes kort-kort penne ruil om al die plakkate, T-hemde en selfs langspeelplate te teken.

Johan Cronje saam met Neil Sandilands na die vertoning. Foto: Gerda Bruinette

Kommentaar het gewissel van “jou musiek is amazing” tot “ek love jou stories en musiek.”

Dankies was daar baie, met een aanhanger wat net Neil se hande in hare geneem en begin huil het.

Gerdus en Marise Wilcocks, Neil Sandilands, Cecile en Reinhard Janse van Rensburg. Foto: Gerda Bruinette

‘n Besondere middag vir die gehoor, Neil en Die Band. Dit was hul 11de optrede in 11 dae as deel van hulle Land&Sand Wintertoer van 40 dae en 40 nagte deur Suid-Afrika.

Vir meer inligting oor die toer en Neil Sandilands se nuwe album, Land&Sand, volg hom op Facebook.

Exit mobile version