Brandon steeds positief na terugslae

Niks kan Brandon se veggees demp nie

VANDERBIJLPARK – Al is hy amper drie maande in die hospitaal laat hy nie toe dat dit hom onderkry nie.

Die 29-jarige Brandon Moolman, ‘n kwadrupleeg van Vanderbijlpark, is op 15 April in Mediclinic Muelmed opgeneem nadat ‘n drukseer sodanig vererger het dat dit plastiese chirurgie verg.

Moolman is in 2020 in ‘n fratsongeluk verlam toe hy en vriende naby Bothaville van ‘n brug af in die rivier gespring het.

Hy het sy nek gebreek en is sedertdien in ‘n rolstoel vasgekluister, maar niks kry hom onder nie. Hy het steeds hokkie afgerig, gholfdae en motiveringspraatjies gehou. Hy het onlangs aan die 19-jarige Megan van Schalkwyk verloof geraak.

“Ek wil hê my storie moet ander mense inspireer,” sê hy. Hy het boonop op 15 Junie sy verjaarsdag in sy hospitaalbed gevier.

“Hy is my yster. Hy het nog nie een dag gekla nie. Hy is altyd positief en glimlag,” vertel sy pa, Leon. Moolman is stadig maar seker besig om weer te begin sit, maar dit gaan ‘n tydsame proses wees.

“Van my steke het losgeskeur toe ek begin sit het, so ons doen dit nou stelselmatig.

Ek sit nou al 30 minute en volgende week en die week daarop sal dit elke week met ‘n halfuur vermeerder. Daarna sal ek ontslaan word en dan moet ek met die sit-regime by die huis voortgaan,” gee hy te kenne.

Moolman se versorging bly egter altyd ‘n finansiële kopseer en diegene wat belangstel om hom by te staan kan ‘n skenking maak. *Nedbank, Tjek Rekening nommer: 120 5893 229 Swift code: NEDSZAJJ

Exit mobile version