Local newsNews

Mike Schutte se kleinboet, Pieterboy, word met trane én vreugde onthou

Pieta was in baie opsigte net so legendaries soos sy bokser-broer

 

VANDERBIJLPARK. – Pieterboy Schutte (71) was honderde mense se rots en voorsiener. En nou is dié groot man met sy genotvolle liedjies, stories en bulderende lag stil. Hy is verlede Maandag aan kanker oorlede. Pieta, soos hy onder sy familie en vriende bekend was, was die broer van wyle Mike Schutte en net so legendaries soos sy bekende bokser-ouboet.

Pieta is op 10 Desember 1952 as jongste van vier broers en ‘n suster in Vanderbijlpark gebore en het aan die Laerskool Hendrik van der Bijl en HTS Carel de Wet skoolgegaan. Albei sy ouers is relatief jonk oorlede en Pieta het nie sy skoolloopbaan voltooi nie, al het hy van jongs af ‘n flink brein gehad. Hul ma is eerste oorlede aan keelkanker en hul pa het voor sy dood vir Mike laat belowe dat hy sou toesien dat Pieterboy verder gaan leer. Pieta het toe sy vakleerlingskap by die destydse Yskor begin en verder in metallurgiese en meganiese ingenieurswese aan VUT studeer. In die opvolgende jare het hy homself as ‘n gerekende kenner op sy gebied bewys, veral in sweis- en verhardingsmetale waarin hy gespesialiseer het.

Hy het onder andere by AECI, Mittal en Dorbyl gewerk voor hy in 2000 sy eie ondernemings, MPGroep, MPVaal, MPMiddelburg en MPNaledi begin het om dienste en produkte aan Mittal, Sasol, Columbus Staal en die myne te verskaf. As entrepreneur het hy sy onderneming sonder die hulp van enige bank begin.

“Hy was baie trots daarop dat honderde mense die afgelope 24 jaar deur sy werkswinkels opgelei, bemagtig en bevorder is. Sy wens, en dié van ons familie, is dat ons sy legacy kan laat voortleef en die MPVaal Groep aan die groei kan hou vir ons en honderde werkers wat daarby baat,” sê sy dogter, Shauntell Schutte.

Sy onthou haar pa as ‘n man wat vol lewe was en altyd gefluit, geterg en gesing het – selfs op slegte dae. In sy jong dae was hy self ‘n SA bokskampioen wat Mike as skermmaat gehelp het. Hy het graag na alle sport soos rugby, muurbal, krieket, veerpyltjies, fietsry en gholf op TV gekyk en was self ‘n passievolle gholfspeler. In sy jonger jare was rugby sy eerste liefde.

“Bo alles het hy tyd gemaak vir sy mense, lekker kuier, lekker wyn en natuurlik lekker kos. As dit by werk gekom het, kon hy sy stem dik maak, maar na ure kon jy nie sy grappe, sy geskerts en liedjies stil kry nie. Hy was ‘n force in liefde, lewe en passie vir alles wat hy aangepak het,” sê Shauntell.

Met sy intelligente brein was sudoku en hoofrekeninge sy kos. Sy gunsteling sêgoed sal sy geliefdes ook vir altyd bybly: “Never give up!” en “kampioene oefen wanneer ander rus”.
“Hy het ‘n stempel afgedruk op die lewe van almal wat sy pad gekruis het. Vir vele was hy ‘n pa-figuur… die barmhartige samaritaan. Ons as sy kinders, kleinkinders en ‘n groot groep vriende, kollegas en kliënte gaan hom baie mis. Hy was die MPGroep se eie ‘Voice of the Vaal’,” sê Shauntell.
* Die familie gaan later die maand Pieta se lewe tydens ‘n private seremonie by Heron Banks Gholflandgoed vier.

Pieterboy Schutte en sy dogter, Shauntell.
Pieta Schutte in n ligte oomblik op die gholfbaan.
Pieta Schutte in ‘n teer oomblik saam met sy kleindogters.
Pieterboy Schutte (heel regs) saam met ‘n groepie familielede.
Al was Pieta ‘n baie hardwerkende man, het altyd tyd gemaak vir ‘n lekker kuier, ‘n grappie en lekker lag.
Pieterboy (regs) saam met sy oorlede ouboet, die bokser Mike Schutte, met wie hy ‘n hegte verhouding gehad het.
Baie sal hom onthou as ‘n vriend duisend!
Pieterboy op sy 50ste verjaardag.
Pieta Schutte saam met twee van sy familielede.
Sy gesin en familie was alles in Pieterboy Schutte se lewe.
Sy vriende en familie sal hom onthou vir sy lekker lag en baie grappies.
Wyle Pieterboy Schutte.
Pieta as lid van ‘n rugbyspan in sy jonger jare.
Pieta Schutte en sy dogter, Shauntell.

Back to top button