Local newsNewsNews

‘Dankie beteken meer as ‘n miljoen rand’ – Marlene Drotskie

Maak nader kennis met Marlene Drotskie, een van Vaalpark en Sasolburg se steunpilare.

VAALPARK. – Sasolburg ken Marlene Drotskie as ‘n raakvat vrou, bemoediger en traumaberader. Die een om te kontak in noodsituasies.

Sy was op haar dag betrokke by AfriForum se trauma-afdeling en sy het vir vyf jaar diens gedoen by Sasolburg se Gemeenskap Polisiëringsforum.

Nou is sy skakelbeampte van Public Eye Vaalpark en net so betrokke by die gemeenskap soos altyd. Marlene is van nature ‘n goeie organiseerder, planmaker en motiveerder.

Die lewe het al menigmaal probeer om haar onder te kry, maar sy gaan nooit lê nie. Nadat haar seun aan kanker oorlede is, het sy besluit om ‘n traumaberadingskursus te doen.

“Ek het besef ek kan niemand anders help voordat ek nie myself kan help nie,” vertel sy. Dit het haar lewe verander.

Sy wou mense help, van die slagoffers van gesinsgeweld tot by die mense wat op straat bly.

“Ek het oor die jare geleer waar die haweloses slaap, dan het ek sommer net by een gaan sit. Hulle het self vir my hul stories vertel. Elkeen het ‘n storie en elkeen wil maar net gehoor word.”

Haar betrokkenheid by veral die jong hawelose seuns, het vrugte afgewerp en vandag vertel sy trots hoe vele van hulle weer hul weg terug in die samelewing gevind het en vandag suksesvolle lewens voer.

Marlene is ‘n gebore Sasolburger en het, behalwe vir 10 jaar in Richardsbaai, nog altyd in die Vaaldriehoek gebly.

Sy beplan groot gemeenskapsprojekte saam met Public Eye en sê die inwoners van Sasolburg en Vaalpark moet weet “ek is nog steeds hier vir julle.”

Hoewel gemeenskapsbetrokkenheid en -werk nie altyd maklik is nie en kritiek in oorvloed is, veral van die stuurmanne aan wal, sê Marlene dat ‘n dankie vir haar meer beteken as R1 miljoen.

“As een mens in jou glo, kan jy weer 20 ander help.”

Check Also
Close
Back to top button