Bulle en Sharks skitter by Rhino Week

Skolerugby is in veilige hande

VANDERBIJLPARK. – Die Sharks en die Blou Bulle het verlede week op die Isak Steyl-stadion tydens die Dries van Heerden Rhino Provinsiale Rugbyweek vir o.15 en o.17-rugbyspanne onderstreep dat daar ‘n oorvloed van talent in die twee provinsies is.

Volgens van Heerden, ‘n voormalige SA-skole afrigter en lid van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie se uitvoerende raad, is hy baie beindruk met die gehalte van spel wat by die week opgelewer is.

“Die professionalisme van die top spanne is indrukwekkend. Dié spanne het tot fisioterapeute wat saam toer. Baie van die spelers wat by die week gespeel het, gaan aanstaande jaar by die Grant Khomo en Cravenweek in aksie wees. Ek dink ons het ʼn Springbok of twee in wording gesien, ” het van Heerden gesê.

In die o.15-eindstryd het die span in Swart en Wit die krane oopgedraai om ʼn begeesterde Ligblouspan met 24-14 te klop.

Die Blou Bulle se o.17-span het in die eindstryd die bordjies verhang deur ʼn reuse-aanslag van die Sharks af te weer om met 20-8 te seëvier.

Na afloop van die week is daar ‘n Rhino o.17-toergroep van 35 spelers gekies wat in Desember in Italië gaan toer. Die Blou Bulle spog met agt en die Sharks met nege spelers in die toergroep.

Twee spelers van die Blou Bulle en Sharks ding mee vir besit van ‘n afskop af. Foto: Ettienne van Rensburg
‘n Speler van die Sharks rond af met ‘n pragdrie digby die pale.
Bloubul-vreugde!
Exit mobile version