Ek sê maar net: Wanneer die kleinspan jou dag maak

RUBRIEK. - Dit was 'n lekker kuier, al wou een jongeling met my baas gaan baklei en 'n ander my betaal om langer te bly.

RUBRIEK. – Stap ek vroeg Woensdagoggend by Just KIDDING Naskoolsentrum in. Nuuskierig om te sien waarmee word die 20-plus jongelinge besig gehou die vakansie.

‘n Hele paar 4 – 6 jariges kom groet dadelik. “Ek het my pop vandag saamgebring,” en onseremonieel word die pop in my arms gedruk.

Die jong “ma”, met blinkertjies oor haar neus, is tevrede toe ek dadelik sien die pop is ‘n prinses.

”Juffrou was mos by ons skool?” en ‘n bruinkop meisie glimlag breed toe ek bevestigend antwoord

‘n Kleinman met wakker ogies verklaar plegtig sy naam is Declan van der Westhuizen. ‘n Knaap van 9 of 10 kom aangedraf.

“Het tannie foto’s van ons rugby geneem?” Ek erken die gesiggie. “Ja, Kollegepark se o.10 kampioene.”

Hy glimlag breed, vlieg om en gil uitbundig vir sy maats. “Ek het julle gesê dis sy”.

“Ons het vandag ‘n sout-kunsprojek” vertel Simoné de Jongh, terwyl die groep, netjies, vir energieke kinders op vakansie, hul plek agter tafels gaan inneem.

Elkeen is gewapen met ‘n sakkie sout, prentjie, twee oorstokkies en ‘n bietjie gom. Hulle val ywerig weg om gom te smeer en sout oor die gom te strooi.

Ek staan nader met die kamera. Jonge Declan konsentreer hard en skrik groot toe die kamera skielik by hom flits.

“Daar skrik ek nou,” sê hy en ons albei lag. “Skuus man, dit was net die kamera. Glimlag dan neem ek jou weer af.”

Sy buurvrou, Chantelize Swart laat gou van haar hoor. “Ek skrik nie vir kameras nie. My Pa het een en ek ook.”

Rondom my word die sout op die vloer meer, die handjies taaier, maar die kinders gesels ‘n hond uit ‘n bos uit.

Elkeen het ‘n storie en ek bewonder almal se prentjies. “Ek moet nou gaan werk,” verklaar ek uiteindelik. “Anders gaan my baas raas.”

“Wie is jou baas?” Ek kan sien die juffie wil sommer my redakteur aanvat oor die ontydige spertyd as hulle wil kuier.

“Wat as ek jou betaal?”, kry ‘n bulletjie ‘n blink idee.

“Kyk Tannie, ek eet die sout.”

“Tannie my boetie eet die sout! Jig.”

“Kyk gou eers my soutboompie.”

Ek lag al die pad na myse Ford Mich toe. Die kleingoed het nie ‘n idee hoe hul hierdie joernalis se dag opgehelder het nie.

Exit mobile version