Local newsNews

Ouers bid vir ‘n kunsbeen vir Dané

Dané is 'n besige, aktiewe baba en kruip al op haar eie manier met net een been. Sy kan haarself ook al teen lae meubels optrek terwyl sy haar op haar linkerbeentjie balanseer

 

MEYERTON. – Terwyl klein Dané Badenhorst (10 maande) by haar ouerhuis sit en speel, lyk sy soos enige normale, intelligente dogtertjie van haar ouderdom. Dit is eers wanneer sy probeer kruip dat mens sien iets skort: Haar regterbeentjie is net ‘n kort stompie sonder ‘n knie of voetjie.

Vir haar ouers, Gerda en Danny Badenhorst van Meyerton, was dit ‘n skok toe hul dogtertjie op 20 Augustus verlede jaar met net een volledige beentjie gebore is maar hulle het van die begin af aanvaar dat dit God se plan was. “Vir ons is sy perfek geskape maar ons sal haar graag wil help om ‘n kunsbeen te kry sodat sy betyds normaal kan leer loop,” sê Gerda.

Dané is ‘n besige, aktiewe baba en kruip al op haar eie manier met net een been. Sy kan haarself ook al teen lae meubels optrek terwyl sy haar op haar linkerbeentjie balanseer, maar sy sal so gou as moontlik haar eerste kunsbeen moet kry om normaal te leer loop.

Pa Danny is ‘n sonkrag-installeerder en ma Gerda ‘n kassiere by ‘n plaaslike winkel. Hulle het nie ‘n mediese fonds nie en het vasgestel dat hulle op die gouste eers oor 18 maande deur die staat se gesondheidsdienste ‘n kunsbeen vir hul kleinding sal kan kry. Tyd is egter van die grootste belang sodat Dané betyds haar volgende mylpaal-ontwikkeling kan bereik en leer loop.

‘n Kunsbeen gaan sowat R50 000 kos. Danny en Gerda het nie genoeg geld om self daarvoor by ‘n private instansie te betaal nie en het ‘n Back-a-Buddy-rekening vir haar geopen. Ongelukkig het hulle tot dusver nog geen donasies ontvang nie.

“Ons moes al ons moed bymekaarskraap om die publiek vir hulp te vra, maar ons sal enigiets doen om ons engeltjie te help. Ons weet deur God is enigiets moontlik en ons sal nie opgee nie,” sê Gerda.

* Mense wat ‘n bydrae wil maak, kan ‘n inbetaling doen aan rekeninghouer: G. Nunez, TymeBank, rekeningnommer: 51090657490, takkode: 678910, verwysing: “Back Danétjie”.
Meer inligting is beskikbaar op die Back-a-Buddy-blad: https://www.backabuddy.co.za/campaign/dantjies-dream-leg. Gerda kan gekontak word by 084 074 3160.

 

 

 
Back to top button