Local newsNews

Ma bedroef agtergelaat na seun se paddood

Hy het by ABC Electrical in die dorp gewerk en as broodwinner seker gemaak sy ma is finansieel versorg.

 

SASOLBURG. – ‘n Mens se rustige bestaan kan in een oomblik verander in ‘n tragedie. Hiervan kan mev. Alet van der Sandt getuig nadat haar seun, Roedolph, op 23 Junie in ‘n padongeluk gesterf het. Buiten dat sy ‘n geliefde kind verloor het, was hy ook haar steunpilaar en broodwinner.

Roedolph van der Sandt (47) was ‘n jarelange inwoner van Sasolburg en het hier grootgeword en skoolgegaan. Volgens ‘n familievriendin, Lindie Rooth, het hy vir ‘n rukkie in Nelspruit gebly en daar gewerk, maar vroeg vanjaar teruggekom na Sasolburg, waar hy en sy ma saam gewoon het. Hy het by ABC Electrical in die dorp gewerk en as broodwinner seker gemaak sy ma is finansieel versorg.

Roedolph, sy suster en swaer het die aand voor sy dood saam by hul ma in Sasolburg gekuier. Hy het vroeg die volgende oggend Vanderbijlpark toe gery toe sy voertuig op die R57 net agter die DP de Villiersstadion gerol het. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie. Sy geskokte suster en swaer, wat ‘n paar minute later dieselfde roete gery het, het op die ongelukstoneel afgekom.

Roedolph was geskei en ten tyde van sy dood enkellopend. “Hy het ‘n oop hand en hart gehad en nooit geskroom om ander te help nie. Mens kon hom enige tyd van die dag of nag kontak as jy hom nodig gehad het. Hy was altyd daar,” sê Lindie.

Sy afskeidsdiens is verlede Saterdag by die 4 Ankers Kerk in Felixstowestraat, Sasolburg gehou. Te midde van haar hartseer het die bedroefde mev. Van der Sandt nog verskeie finansiële verpligtinge wat sy na haar seun se dood moet nakom.
Enigiemand wat haar geldelik wil bystaan deur die krisis, kan ‘n inbetaling maak aan: J.A.C. Van der Sandt, Absa 1, spaarrekening: 9198152469.

Die wrak van Roedolph se voertuig.
Wyle Roedolph van der Sandt (47).

 
Back to top button