Local newsNews

Nóg operasies lê voor na botsing teen bees

Hoewel die breuke in Tiena se been en heup mooi herstel het, het haar gebreekte arm ongelukkig nie reg aangegroei nie. Verdere operasies is nou nodig.

VANDERBJLPARK. – Die afgelope jaar was ‘n pynlike herstelpad vir mev. Tiena Esterhuizen nadat sy op 31 Maart 2023 met haar motorfiets teen ‘n losloperbees gebots het. Hoewel nog operasies voorlê, bly dié 63-jarige ouma positief dat sy uiteindelik ten volle gaan genees.

Tiena was die middag van die ongeluk met haar 125cc motorfiets op die Barrage-pad vanaf Vaal Mall onderweg huis toe, toe ‘n losloperbees oorkant Alex Roadhouse skielik voor haar motorfiets ingehardloop het.

Tiena is met ernstige beserings na die Sebokeng-hospitaal vervoer, waar vasgestel is dat haar linkerbeen net bokant die knie en net onder die heuppotjie gebreek was. Haar linkerarm was ook op twee plekke net bokant die pols gebreek. Weens probleme met die lugversorging in die hospitaal se teaters moes sy weke lank wag voordat noodsaaklike operasies gedoen kon word om haar breuke met metaalplate en skroewe te heg.

Na ‘n jaar van intensiewe oefening, fisioterapie, pyn en tandekners kan sy nou weer redelik goed stap. Sy was onlangs vir ‘n opvolgondersoek by die Chris Hani/Baragwanath-hospitaal, waar vasgestel is dat haar arm ongelukkig verkeerd aangegroei het. Nog operasies lê nou voor om dit reg te stel.
Tiena het van haar jong dae af motorfiets gery, maar het sedert die ongeluk nog nie weer gery nie. Sy wil ook nooit weer nie, sê sy.

Hoewel sy baie liefde en ondersteuning van haar kinders ontvang, is geld vir haar versorging en vervoer baie beperk. Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan ‘n inbetaling doen aan JF Esterhuizen, Capitec, spaarrekening: 1530840013.

Dié onlangse x-straalfoto toon dat Tiena se linkerarm verkeerd aangegroei het.
Mev. Tiena Esterhuizen verlede jaar in die Sebokeng-hospitaal, terwyl sy gewag het op haar noodsaaklike operasies.
Mev. Tiena Esterhuizen (63) saam met haar dogter, Reda.

 
Back to top button