Local newsNewsNews

Een vir die rekordboeke!

MEYERTON. - Plaaslike inwoner Ferdi van Staden (32) het bewys dat die spreekwoordelike: The early bird catches the worm, beslis ook op hengelaars van toepassing is.

Ferdi het verlede naweek aan The Donnie Classic 2024 in Westonaria deelgeneem en die grootste karp ooit gevang tydens ‘n Suid-Afrikaanse spesieshengel-kompetisie.

Ferdi vertel dat hy Saterdagoggend 03:30 ‘n spinner rig gebruik het, met ‘n 18mm krill boillie en 15mm pop-up (ander hengelaars sal seker verstaan wat hy alles hiermee bedoel) gebruik het.

Sy beloning was ‘n reuse karp van 24.2 kg.

Ferdi van Staden van Meyerton met die rekord-karp wat hy verlede naweek geland het.

Dié reuse-vangs is nie net die grootste karp wat in ‘n Suid-Afrikaanse spesieshengel-kompetisie ingeweeg is nie, dit is ook die nuwe Donaldson Dam-rekord en Ferdi se persoonlike beste!

Ferdi behoord nie aan ‘n hengelklub nie, maar het ‘n passie vir hengel en neem reeds sedert 2018 aan spesieshengel-kompetisies deel.

En natuurlik was dit vir hom ‘n groot oomblik.

“Toe hy byt kon ek voel daar is ‘n grote aan die hoek, maar ek het nie die reuse karp verwag nie,” vertel Ferdi.

Maar na hy die karp moeg gespeel en met ‘n vangnet uitgeskep het, het ‘n vriend gesê: “Ek het nog nooit so groot vis gesien nie.”

Dis toe dat Ferdi besef het hy het ‘n spesiale vangs.

“Dit was soos ‘n adrenalien-inspuiting. Ek kon daai Saterdagaand glad nie slaap nie,” vertel Ferdi.

Na al die opwinding is daar foto’s geneem (net om te bewys dit was daai grote wat nie weggekom het nie), waarna die karp ingeweeg en daarna weer versigtig vrygelaat is in sy natuurlike habitat.

Totsiens ou grote! Ferdi laat die reuse karp weer vry in die dam.

 
Back to top button