Local newsNewsNews

Ons neem hartseer afskeid van een van ons eie

VANDERBIJLPARK. - Gereed om enige nuusstorie na te jaag! So sal personeel van MooiVaal Media se nuuskantoor ons oud-kollega. Jannie du Plessis, onthou.

Jannie (60) het dit geniet om joernalis te wees, mens kan maar sê dit was in sy bloed. So ook was sy voorliefde vir die mooie Weskaap.

Dit was dan ook die rede waarom Jannie die Vaal in 2019 vaarwel geroep het om as joernalis by die Mossel Bay Advertiser aan te sluit.

Sy sielsgenoot, vrou en beste vriend Gail, het die nuwe avontuur saam met hom aangepak. Die twee het vir agt jaar uitgegaan voordat hulle verlede jaar amptelik die knoop deurgehak het.

Hoe Jannie onthou sal word. Kamera om die nek gereed vir nog ‘n nuusstorie.

Vrydag, 21 Junie het MooiVaal Media die hartseer nuus ontvang dat Jannie die oggend voor hy werk toe is ‘n hartaanval by sy huis gehad het en gesterf het.

Jannie het op die ouderdom van 48 jaar ‘n hartomleiding gehad. Hy is jaarliks ondersoek, en tydens sy laaste ondersoek het alles nog in orde gelyk.

“Jannie het nie oor enigiets gekla nie, maar was die laaste paar dae baie moeg,” vertel Gail. Sy sê Jannie het die oggend van sy dood soos oudergewoonte vir haar koffie gemaak voordat sy werk toe is.

Sy het later ‘n oproep van Jannie se kollegas by Mossel Bay Advertiser ontvang om te hoor waar Jannie is, want hy het nog nie by die werk opgedaag nie en antwoord ook nie sy foon nie.

Gail is dadelik terug huis toe, waar sy haar geliefde man dood in die sitkamer op die mat aangetref het. Jannie se gedenkdiens is reeds Woensdag by die Hartenbos Care Center gehou.

“Ek bedank almal vir die omgee en ondersteuning in die hartseer tyd. Ek was eintlik verbaas om te sien hoeveel mense se lewe hy aangeraak het, hier in Mosselbaai en ook in die Vaaldriehoek,” sê Gail.

Hoewel Gail destyds meer om Jannie se onthalwe Mosselbaai toe verhuis het, gaan sy daar bly. “My werk en die mense waarmee ek werk is soos familie, en ek is gelukkig hier,” sê sy.

Gail en Jannie verlede jaar op hul troudag.

* Jannie is in Vanderbijlpark gebore en het aan die HS Transvalia matrikuleer.

In sy jonger jare was hy ook ‘n Springbok-gimnas, iets waarop hy met rede trots was.

Hy het eers ‘n loopbaan in die boubedryf gehad, waar hy vir sowat 13 jaar in Jacobsbaai gewerk het. Jannie het later ‘n loopbaan in joernalistiek uitgekerf en was nie net ‘n ywerige joernalis nie, maar sal ook onthou word vir sy puik fotografie.

Terwyl hy destyds deel van MooiVaal Media se span was, het sy fotografie hom verskeie van die land se top toekennings in die Gemeenskapspers besorg.

MooiVaal Media se personeel sal Jannie nie net as ‘n gewaardeerde kollega onthou nie, maar ook as ‘n lojale vriend wat uit sy pad gegaan het om ander te help.

Ons innige meegevoel aan sy familie, in besonder sy vrou Gail, sy seun Jean en skoondogter Esther en kleinkinders.

 
Back to top button