Local newsNews

‘Warrior Princess’ sterf na 2½ jaar se stryd

Alissa sal vir altyd met liefde onthou word deur haar ouers en familie - sowel as deur duisende lesers wat die afgelope twee jaar gebid het vir genesing.

 

MEYERTON. – Klein Alissa van der Walt het in haar 2½ jaar meer mediese prosedures ondergaan as meeste volwassenes in ‘n leeftyd. Hoewel sy moedig geveg het, het sy op 2 Junie haar stryd verloor.
Die kleinding se mediese uitdagings het in werklikheid reeds voor haar geboorte as fetus begin, toe sonarondersoeke sekere afwykings getoon het. Daar was ook ‘n moontlikheid dat sy aan Down-sindroom sou ly.

Medici het destyds die moontlikheid met haar ouers bespreek om die swangerskap te beëindig, maar Shevaughn en Stefan van der Walt het besluit om dit in geloof voort te sit. Met Alissa se geboorte op 23 Desember 2021 het die ouerpaar die goeie nuus gekry dat sy nie Down-sindroom het nie, maar sy is wel met hidrokefalie, wat in die volksmond as ‘n “waterhoof” bekend staan, gebore. Met haar blink ogies en skaam glimlaggie het dié klein vegtertjie vinnig in duisende Facebook-lesers se harte ingekruip: ‘n Ware “Warrior Pincess” soos haar ma haar genoem het.

Verskeie prosedures, soos om ‘n dreineringsbuis van haar brein na haar magie in te sit, is die afgelope twee jaar uitgevoer. Ongelukkig was daar herhaaldelike terugslae en sy moes 18 verdere operasies en prosedures ondergaan, onder andere weens breinvliesontsteking, fungus-infeksies, en om siste in haar brein en buik te behandel. In Januarie vanjaar het sy boonop twee hartaanvalle weens longontsteking gehad. Sy het ses maande in hospitale deurgebring en was ten tyde van haar dood weer met longontsteking in die Netcare Alberton-hospitaal.

“Ons mis haar so baie en alles herinner ons aan haar. Om by die huis te wees is die ergste. Al wat ons oor het, is die herinneringe,” sê Shevaughn, wat deurgaans bly bid het vir ‘n wonderwerk.
Vir haar ouers was die afgelope 2½ jaar nie net emosioneel en fisies dreinerend nie. Hulle het tans ook groot geldelike uitdagings: Hoewel hulle ‘n mediese fonds gehad het, is nie al hul mediese rekeninge gedek nie. Hulle skuld nog R80 000 wat hulle te midde van hul hartseer oor hul kind bymekaar moet maak.

Mense wat hulle graag finansieel wil bystaan, kan Alissa se Back-a-Buddy-rekening by https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-alissa-fund besoek, of ‘n direkte inbetaling maak aan Shevaughn Britz, FNB/RMB, spaarrekening: 62598919721, takkode: 250655.
* Alissa se afskeidsdiens is op 6 Junie by die Hope Family Chruch in Henley-on-Klip gehou.

Hier onder is foto’s van Alissa wat die afgelope twee jaar in Vaalweekblad of op Facebook verskyn het.

Klein Alissa kort na haar geboorte in Desember 2021.

Alissa saam met Mamma Shevaughn.

Alissa toe sy al kon bottel drink terwyl sy die wêreld met wakker ogies bekyk het.
Klein Alissa van der Walt, wat agt weke te vroeg op 23 Desember gebore is. Hier by haar is Pappa Stefan en Mamma Shevaughn.
Mnr. Stefan Van der Walt van Meyerton by sy pasgebore dogtertjie.

‘n Trotse pappa en sy dogtertjie.

Klein Alissa van der Walt was sewe dae oud voordat mamma Shevaughn haar die eerste keer kon vashou.
Met daardie glinlaggie kon klein Alissa almal se harte vermurwe.
Pappa Stefan en Mamma Shevaughn met hul klein vegterjie, Alissa van der Walt.

 

Klein Alissa in haar laaste weke toe sy reeds baie siek was.

Alissa sal vir altyd met liefde onthou word deur haar ouers en familie – sowel as deur duisende lesers wat die afgelope twee jaar gebid het vir genesing. Haar ouers hou vas aan hul geloof dat hul dogtertjie nou op ‘n beter plek is waar daar nie meer pyn en lyding is nie.

 

 
Back to top button